Search this journal:     Advanced search
Article Information

Author:
G.M.J. (Gafie) van Wyk1,2

Affiliations:
1The Netherdutch Reformed Church, Cape Town, South Africa

2Reformed Theological Colllege, Faculty of Theology, University of Pretoria, South Africa

Correspondence to:
Gafie van Wyk

Postal address:
45 Burton Street, Aurora, Durbanville 7550, South Africa

Dates:
Received: 18 Sept. 2012
Accepted: 12 Oct. 2012
Published: 23 Nov. 2012

How to cite this article:
Van Wyk, G.M.J., 2012, ‘Die mooi drome van burgerlike teologie verander toe in kerklike nagmerries‘ HTS Teologiese Studies/Theological Studies 68(1), Art. #1338, 12 pages. http://dx.doi.org/10.4102/
hts.v68i1.1338

Copyright Notice:
© 2012. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
Die mooi drome van burgerlike teologie verander toe in kerklike nagmerries
In This Original Rese arch...
Open Access
Abstract
Inleiding
Die politieke funksie van die kerk
   • Vernuwing
   • Tradisie
   • Eenheid in gesindheid en waarheid
   • Belydenis bevrydende waarheid
Slotwoord
Erkenning
   • Medingende belange
Literatuurverwysings
Abstract

The sweet dreams of civil theology then became ecclesiastical nightmares. With the 69th General Assembly of 2010 the Netherdutch Reformed Church reached a fork in the road. The Church is still hesitating, unsure which road it should take at the fork. But she can not hesitate much longer. History will not wait infinitely for those who find it difficult to make choices on political and ecclesiastical matters. This article reflects on the recent history of the Church that brought her to this fork in the road, the different choices that are on the table for the Church at this stage and how she will shape her own future by the choices she will have to make in the near future. Rather than presenting a systematic argument on the matter at hand, the article reflects from different perspectives on the problems the Church is facing. Politics, ecclesiastical renewal, the role of tradition and heritage in ecclesiastic reflection, Church unity and the role of confessions of faith as a binding factor in the ecclesiastical community are used as points of reference to reflect on the current crisis in the Church. Church leaders are called upon to break with a tradition of civil obedience serving the interests of the politicians in power. The Church should rather bravely fulfil her calling to practise prophetic criticism in society so that she can help to promote justice for all in the most efficient way possible.

[En] dit is natuurlik altyd makliker om te maak asof die wêreld ’n beter plek is as wat dit is, omdat dit jou vrywaar teen die moeilike besluit om iets daaromtrent te doen. (André P. Brink 2009)

Inleiding

Die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika het by ’n vurk in die pad gekom. Terugdraai, sodat die vurk vermy kan word, is nie eers ’n moontlikheid nie. Al is baie van ons lief vir ons tradisie en ons erfenis, kan ’n mens nie in die verlede leef nie. ’n Mens kan nie op ’n ander plek en tyd leef as hier en nou nie. Al wat vir die Kerk oorbly, is om die raad van Yogi Berra te volg: ‘When you come to a fork in the road, take it.’ Wat gaan die Kerk se keuse wees by die vurk in die pad? Watter pad gaan geneem word? Die regterkantste pad word deur sommiges onder ons as die hoofroete, die spreekwoordelike breë weg, voorgehou. Dit is, volgens padwysers wat nou met ywer deur ’n groepering in die Kerk by die vurk aangebring word, ’n blote verlenging van die pad voordat dit gevurk het. Dit is die pad van die volkskerk wat die nasionale strewes van die Afrikaner dien binne die raamwerk van ’n Christelike kultuur wat bepaal word deur fundamentalistiese teologie en oudwêreldse moraliteit. Wie hierdie weg kies, maak graag daarop aanspraak dat hulle projek die legitieme voortsetting van die ware Hervormde Kerk is. Die probleem met hierdie pad is dat dit jou na ’n kort afstand oor ’n afgrond van ideologiese mislukking laat afstort. Die linkerkantste grondpad is ongekaart, maar jy kan dit aanpak met die evangelie as rigtingwyser. Hierdie pad lei jou in die dikwels brutale landskap van Suid-Afrika in. Ons weet nie waar die pad gaan uitkom nie, maar dit is van minder belang. Dit is wel van groot belang dat die reis op die pad onderneem word, want op hierdie reis moet die evangelie verkondig word. Hierdie pad lyk ook verbasend baie na die pad voor die vurk, die kronkelroete wat deur die aangrypend mooi, maar ruwe landskap van Afrika loop.

Hierdie artikel reflekteer oor hoe ons Kerk by die vurk in die pad gekom het, wat die keuses wat ons as Kerk nou moet maak mag inhou en hoe ons die toekoms kan benader. Eerder as dat hier sistematies oor die sake op die tafel nagedink word, word vanuit verskillende invalshoeke oor dieselfde situasie gereflekteer. Die artikel wil nie net rekenskap gee oor die (onlangse) verlede nie − dit wil ook besin oor die toekoms van ons Kerk.

Die politieke funksie van die kerk

Met verloop van jare het baie herinneringe oor my bediening as predikant van die Kerk al begin vervaag. Ons almal onthou maar selektief en wat vir jou van minder belang is, raak mettertyd vergete. Selfs kosbare herinneringe wat jy graag sou wou koester, vervaag mettertyd. My aankoms in die eerste gemeente wat ek voltyds bedien het, is egter nog kraakvars in my geheue. Ek kan nie meer veel onthou van die intreepreek, die toesprake wat dié dag gelewer is, of die gesellige funksie wat die gemeente aangebied het om my as hulle nuwe leraar te verwelkom nie. Wat ek wel goed onthou, asof dit gister gebeur het, is ’n onverwagse besoek wat ek van ’n plaaslike politieke ampsdraer ontvang het. My paar stukkies meubels was nog nie behoorlik van die meubelvervoerwa afgepak met my intrek in die gemeente nie, toe is hy daar in alle ywer: ‘Hy kom my net namens die politieke party wat hy in sy kiesafdeling verteenwoordig, verwelkom en spreek die hoop uit dat ons baie lekker gaan saamwerk. So en so, lidmaat van die gemeente, het my besonderhede aan hom gegee’.

Toe ek hom meedeel dat ek in die openbare lewe polities neutraal staan omdat ons Kerk ’n beleid handhaaf dat predikante nie by partypolitiek betrokke raak nie en ek in my persoonlike hoedanigheid ook nou nie juis met sy party se beleid kan assosieer nie, wou hy weet of hy darem net die party se koerant kan laat aanstuur. ‘Nee dankie,’ sê ek vir hom. ‘Ek gebruik die gemeente se posadres en as stukke van ’n bepaalde politieke party gereeld in die pos is, kan die lidmate van die gemeente wat die pos sien dalk net verkeerde afleidings maak oor my politieke sentimente’. Met die verwyt dat my voorganger hom nooit so sleg behandel het nie, is hy toe daar weg.

Met my eerste huisbesoek aan die lidmaat wat so goedgunstig die nuus oor die aankoms van ’n nuwe predikant aan die politikus vermeld het, hoor ek sommer gou dat predikante hulle geheel en al uit die politiek moet hou en op hulle werk in die gemeente fokus. Toe ek hom antwoord dat ek bly is dat hy intussen van oortuiging verander het (want hy het mos destyds sy party se man gestuur om my te kom verwelkom en samewerking te kom reël), was hy verleë en het oor kerksake begin praat.

Sake het sedertdien nie baie verander nie. Die verhouding tussen kerk en politiek bly problematies en mense se menings oor dié aard van die verhouding is dikwels nog meer problematies.

Die spanningsvolle verhouding tussen kerk en politiek word vandag deur verskeie lidmate, of voormalige lidmate, van ons eie Kerk op die spits gedryf deur in die openbaar, veral deur die sosiale media, maar ook in die dagpers, standpunte te stel. In hierdie gesprekke klink ’n nuwe stem op – ’n stem wat in die verlede nog nie dikwels in die Kerk gehoor is nie. Die stem klink kwaad en beskuldig die Kerk van dwaalleer. Die stem het ’n eie teologie met unieke kenmerke: dit word opgestel teenoor gevestigde kerklike strukture, standpunte en belange. Dit opereer nie met beproefde (wetenskaplike) metodes nie en voer ook nie gesofistikeerde beredenering oor sake nie, maar stel onverbiddelik onbuigbare standpunte wat van ’n klein groepie eendersdenkendes entoesiastiese toejuiging ontvang. Gedeelde oortuigings word hier ‘waarheid’ genoem en alles wat hierdie oortuigings bevraagteken of weerspreek, is leuens. Die taal wat hierdie opkomende stem besig, is propaganda en die teologie wat dit beoefen, is slagspreukteologie. Gou word dit duidelik dat die stem wat hier praat nie die stem van die tot-nou-toe-swygende kerkvolk is, soos wat voorgegee word nie, maar wel die stem van ’n verbitterde, polities-gedrewe minderheid wat ’n kerklike vergadering nie langer van hul politieke standpunt kon oortuig nie.

Tot en met die laaste Algemene Kerkvergadering was die strategie van hierdie groepie binne ons Kerk om die res van die Kerk te oorreed om polities neutraal en onaktief te wees, terwyl hulle self agter die skerms politiek bedryf het. Die strategie kon werk, omdat die politieke orde in hulle guns was.

Met verloop van tyd het die politieke landskap van Suid-Afrika verander. Die politieke mat is onder die voete van die polities-gedrewe, verregse minderheid uitgeruk, want hulle het nou hul strukturele magsbasis verloor. Die besluite van die laaste Algemene Kerkvergadering het ernstige politieke implikasies vir hierdie groep gehad en dit is daarom dat die besluite van die vergadering as polities-gedrewe bestempel word in hierdie kring. Om self die skyn van politieke neutraliteit, of selfs afsydigheid, te probeer handhaaf, maak hulle nie beswaar teen die besluit oor ons apartheidsverlede as sodanig nie, maar teen die teologie wat die besluit moontlik gemaak het en daarom net eenvoudig ketterse teologie moet wees. Om hierdie rede word daar dan nou ook ’n ketterjag in die Kerk van stapel gestuur, want die vermeende ketters moet uitgesnuffel en verjaag word. Dit is alleen só, verkondig hulle, wat die vrede in die Kerk herstel sal kan word.

’n Groep wat in die lig van die huidige spanning in ons Kerk agiteer dat balans alleenlik gevind sal kan word deur ’n sogenaamde middelposisie in te neem en dat goeie balans al ons probleme sal oplos, identifiseer (soos die eerste groepering wat ek hier aan die orde gestel het) ook ’n volgende groepering in die Kerk wat ’n teenpool vir die verregse minderheid sou vorm. Hierdie groep, so word geredeneer, is eintlik primêr verantwoordelik vir die huidige stand van sake, want hulle het die regses uitgelok tot op die punt dat hulle net eenvoudig die reg in hul eie hande geneem het en begin optree het. Kom ons noem hierdie derde groep wat hier ter sprake kom die linkervleuel. Die linkervleuel is nie ’n koherent georganiseerde groep nie, maar wel ’n groep wat in ’n mindere of meerdere mate eendersdenkend is. Die teologiese fakulteit aan die Universiteit van Pretoria (UP) word as die magsbasis van hierdie groep voorgehou. Hierdie groep is ook nie altyd maklik onderskeibaar van dié een wat ’n middelgrond soek nie. Die linkervleuel bedryf kritiese teologie en wat die verteenwoordigers van hierdie posisie se politieke oortuigings nou ook al mag wees, strook dit nie met die ideologiese oortuigings van die eerste groep nie. ’n Volgende relevante kenmerk van hierdie groep is dat haar lede ekumenies gesind is. Die verregse groep verkondig dat individue wat dwaalleer verkondig, en selfs ongelowig is, by hierdie groep ’n tuiste vind en selfs die beskerming van die groep geniet. Ons kan ons oë nie sluit vir die realiteit dat daar in die breër kerklike gemeenskap in Suid-Afrika agterdog heers oor die integriteit en reggelowigheid van hierdie groep nie. As die Kerk geloofwaardig wil bly (vir soverre as wat sy nie alreeds haar geloofwaardigheid verloor het nie), sal alles in die stryd gewerp moet word om alle agterdog jeens al die ampsdraers van die Kerk, die linkervleuel ingesluit, te besweer. Oneerlikheid oor ampsdraers se geloof of ongeloof kan nie in die Kerk geduld word nie, maar net so kan kwaadwillige beswaddering van gelowige ampsdraers ook nie toegelaat word nie. Meer sal gedoen moet word om alle ampsdraers te beskerm teen lasterlike en onwaar aantygings, of die kerklike leierskap dit nou wil weet of nie. Die afsydigheid van die kerklike leierskap in hierdie verband verwond slagoffers van kwaadwillige leuens, skaad die Kerk se geloofwaardigheid en dien nie die eer van God nie.

Die middelgroep is die vredemakers. Hulle is akkommoderend en sal eerder kompromieë tref as om sake op die spits te dryf, selfs waar dit oor leer en waarheid gaan. Hulle is meestal die mense wat die magsposisies in die Kerk beklee, of wat sinodale poste vul en wie se brood en botter van die algemene welstand van die Kerk afhanklik is. Onmin in die Kerk en die moontlikheid van die skeuring van die Kerk, ondermyn hulle gesag en bedreig selfs sommige van hulle se persoonlike sekuriteit. Gerugte wil dit hê dat hierdie groep wel ook agter die skerms goed georganiseerd is en die voortsetting verteenwoordig van die destydse polities-gedrewe broederskappe. Ek is nie in ’n posisie om die waarheid van hierdie gerugte te kan verifieer nie. Stabiliteit, rus, vrede en eensgesindheid in die Kerk is vir hierdie groep van uiterste belang, want dit is nou maar eenmaal makliker om te regeer waar vrede heers as waar revolusie en opstand dreig. In die verlede was die welstand van die Kerk nog altyd ’n getuigskrif van hierdie groep se goeie leierskap. Indien die kerklike strukture ineen sou stort, sal dit ’n verdoemende aanklag teen die groep se leierskap word. Die welstand van die georganiseerde Kerk is die prioriteit binne hierdie groep.

Oor die laaste dekade of twee kon ’n mens waarneem hoe die kerklike leiding se rol verander het van ’n rigtinggewende rol wat teologiese koers vir die Kerk aandui tot ’n administratiewe rol wat praktiese probleme in die Kerk probeer besleg. Die kerklike leiding het met verloop van tyd al minder die Kerk se standpunt gestel en al hoe meer probeer om weersprekende standpunte in die Kerk te bemiddel. Finansiële en administratiewe bestuur het saam met die organisasie van alles en nog wat al meer prioriteit in die Kerk gekry, terwyl teologiese besinning op die rand geskuif is. Simptomaties het dogmatiek en veral die Bybelwetenskappe al minder invloed op kerklike besluitneming gehad, terwyl toegepasde praktiese teologie se rol in die Kerk al groter geword het. Die leemtes van hierdie klemverskuiwing blyk nou duidelik nadat die Algemene Kommissie nie daarin kon slaag om die probleme rakende die Steedshervormers met ’n strategie van diplomasie, bestuur en bemiddeling op te los nie. Die rigtinglose optrede van die Kommissie het die Kerk in ’n teologiese vakuum gelaat. Die Kerk betaal nou die duur prys van ’n kerklike leierskap wat ten alle koste die eenheid van die Kerk wou handhaaf, al is daar lankal nie meer sprake van eensgesindheid in die Kerk oor morele, politieke en sosiale kwessies nie.

Gewis moet die Hervormde Kerk met groter erns luister na wat Paulus in 1 Korintiërs 3 oor partyskappe in die kerk te sê het, maar ons sal ook verder moet besin oor die politieke funksie van die kerk as ons hoop om enigsins die huidige situasie in die Kerk te ontlont.

Ons Kerk se relatiewe kort, maar onstuimige geskiedenis dwing ons om te besin oor die vraag of die Kerk vanuit ’n Bybelse perspektief polities afsydig kan wees en of die Kerk nie tog ook ’n politieke verantwoordelikheid het nie? Die Duitse teoloog, Jürgen Moltmann (1984), meen die mense wat nie self politiek bedryf nie, is dié waarmee politiek bedryf word. Met hierdie uitspraak wil Moltmann nie beweer dat almal van ons slawe van die politiek is nie. Hy wil egter wel benadruk dat mense wat polities naïef is, deur politici misbruik word om hulle eie politieke doeleindes te bevorder. As die Kerk probeer om haar handjies rein te hou deur weg te bly van die smerige politiek af, gaan sy weer – soos tydens die bewind van die Nasionale Party – polities misbruik word. Die Kerk sal nie in die toekoms anders kan as om polities goed ingelig te wees en om die politieke rol wat die kerk in die samelewing behoort te speel, te vervul nie. Die vraag is egter wat die kerk se politieke rol in die samelewing is? Ek glo ons kan ons deur die Bybel laat lei om ’n antwoord op hierdie vraag te kry.

Politiek, as ’n menslike organisasie met die doel om ’n gebied of ’n groep mense te beheer en te organiseer, kom oral in die Bybel ter sprake. Israel se leiers het oor die volk geregeer en internasionale politiek bedryf. God se boodskappers kry nooit die opdrag om afsydig te staan teenoor die politieke doen en late van Sy volk en haar leiers nie, maar hulle moet egter gedurig die leiers en die volk aanspreek oor politieke kwessies. Die boodskap van God aan die mense is egter konsekwent om nie op magshebbers te vertrou vir heil nie, maar wel op God. Verder word die magshebbers vermaan om nie die reg van die geringes te vertrap nie. Die swakkeres moet nie deur die sterkeres uitgebuit word nie, maar moet eerder hul beskerming geniet sodat reg en geregtigheid kan geskied. Hoewel politiek nie ’n vername rol in Jesus se lewe gespeel het nie, is daar tog ook politieke raakpunte wat ons nie oor die hoof mag sien nie. Jesus staan in die tradisie van die Ou Testamentiese profete en sit hulle stryd vir groter geregtigheid vir almal voort. Net soos die profete, verkondig Hy ook dat mense hul vertroue in God moet vind, eerder as om op die magshebbers te vertrou. Om hierdie rede word Jesus, die Seun van die Vader, uiteindelik dan ook oorgelewer om as ’n politieke opstandeling aan die kruis te sterf, terwyl die volk roep om die vrylating van ’n ware politieke misdadiger wat as Seun van (die) vader (Barabbas) voorgehou word.

Uit die Bybel is dit tog baie duidelik wat die politieke taak van die kerk is. Die kerk is nie geroep om politieke partye te steun of teen te staan nie. Net so is die kerk nie geroep om ideologieë te steun of te ondermyn nie. Die kerk is geroep om mense daaraan te herinner om nie hul heil van magshebbers te verwag nie, maar van God, en om elke vorm van onreg bloot te lê en aktief te beveg, asook om reg en geregtigheid aktief te bevorder in die samelewing. Die kerk kan nie met integriteit uit die stryd tree deur ’n apolitiese houding na te streef en haar slegs met die sieleheil van enkelinge te bemoei nie. Die kerk moet polities betrokke raak, sonder om haar deur enige politieke magstruktuur op sleeptou te laat neem. Die kerk het immers ’n profetiese verantwoordelikheid teenoor die hele samelewing.

André P. Brink (2009) skryf:

Ek dink nie ek het ooit in my fiksie oor politiek geskryf nie. Politiek het alles deurdrenk wat ek geskryf het, ja, maar dan as ‘n integrale deel van daardie maklik misverstane begrip, die menslike kondisie. Die openbare, sosiale dimensie van die menslike kondisie.

Met hierdie gedagte as vertrekpunt kom hy tot die gevolgtrekking: ‘En ek glo vas dat geen behoorlike storie ooit vertel kan word sónder ’n politieke dimensie nie (Brink 2009)’ Net so is ek daarvan oortuig dat geen behoorlike teologie bedryf kan word sonder dat dit ook ’n politieke dimensie het nie. Ook die verkondiging van die kerk moet in hierdie sin van die woord ’n politieke dimensie hê.

Kerklike stompsinnigheid oor die politieke probleme van ons land ontnugter mense wat onder politieke magsmisbruik ly. Daar is steeds kerklike ampsdraers wat, as gevolg van kinderlike onderdanigheid aan die voorvaderlike oordeel, hardnekkig weier om te bely dat die ideologie van apartheid boos is. Van hulle wil selfs niks daarvan weet dat enige misdryf wat binne die politieke bestel van apartheid gepleeg is as gevolg van die ideologie van apartheid gepleeg is nie, maar wil alle apartheidsmisdrywe toeskryf aan individue wat die sisteem misbruik het. Daar is ook kerklike ampsdraers onder ons wat vandag probeer om ’n sluier van stilswye te trek oor die huidige Suid-Afrikaanse regime se onvermoë om oplossings te vind vir swak dienslewering, disfunksionaliteit van regeringsstrukture, korrupsie, misdaad en geweld, en bowenal die regime se arrogante houding om nie oor enige van hierdie sake voorgeskryf of tereggewys te wil word nie. Die alewige kerklike gedienstigheid aan die politieke magshebbers van die dag behoort in Suid-Afrika plek te maak vir durf, vasberadenheid en onverskrokkenheid om in verset te kom teen onreg en te veg vir waarheid, vryheid en geregtigheid. Dit is hoog tyd dat alle Suid-Afrikaners moet besef dat politieke burokrate wat te veel mag vir hulleself opeis, ongeag die politieke partye wat hulle verteenwoordig, nog altyd die grootste vyande van die burgers van die land was en dit vandag nog steeds is. Demokrasie kan alleen werk as die breë bevolking self verantwoordelikheid neem om burokrate tot verantwoording te roep oor hul doen en late. Die burgerlike verantwoordelikheid wat ek hier bepleit, is versoenbaar met Bybelse etiek. Die Kerk het ook in hierdie verband ’n profetiese taak.

Wanneer ouderlinge voor die aanvang van ’n erediens voorbidding doen en bid dat God die menslike uit die prediking sal haal of dat slegs die suiwer evangelie verkondig sal word, vertrou ek van harte dat hulle nie meen dat die predikant in goddelike taal eerder as menslike taal sal probeer praat, of dat ’n wêreldvreemde evangelie verkondig sal word nie, maar wel dat menslike voorkeure of belange nie die evangelie sal oorwoeker of in die wiele sal ry nie en dat die prediker gehoorsaam aan God se wil God se woord sal verkondig. Die kerk wat aan God gehoorsaam is, laat haar nie deur ideologiese oorwegings lei nie, maar vervul ’n ideologiekritiese funksie in die samelewing. Net so is sy nie ’n politieke pion van enige magstruktuur nie, maar ’n profeet van God. Soos die goedgelowige ouderlinge wil ek ook vandag bid dat God die menslike uit die Kerk sal haal en dat die Kerk die suiwer evangelie sal verkondig.

Vernuwing
Min mense sal ontken dat die kerk uit pas geraak het met die wêreld waarin ons lewe. Sommige mense probeer nog vashou aan’n ou wêreld waarin die kerk ’n dominante rolspeler was, maar die ou wêreld is uitgedien − soveel so dat net enkele reste daarvan nog behoue gebly het. Die liefhebbers van die ou wêreld verstaan die kerk graag as die uitsonderlike ruimte waar die ouwêreldse werklikheid nog onbeperk geld en waar dit ook in stand gehou word. Die kerk moet daarom, volgens hulle, weerstand bied teen enige moontlike verandering. Dit is die kerk se taak om die vaste orde van gister en eergister te handhaaf. Die kerk moet eintlik ’n alternatiewe werklikheid (’n veilige enklawe) wees waarin mense wat bang is vir die huidige wêreld, hulle kan terugtrek. Dit is egter ’n ydel dagdroom om te dink dat die kerk haarself van die wêreld kan onttrek om as ’n alternatiewe wêreld te probeer bestaan. Nie net is die kerk altyd in ’n mindere of meerdere mate ’n produk van die tyd en plek waar sy bestaan nie, maar die kerk is per definisie kerk in die wêreld. God het die kerk geroep om in die wêreld te wees en Hy het die kerk gestuur om in die wêreld te werk. ’n Kerk wat nie meer in die wêreld wil wees nie, is nie meer kerk nie. ’n Kerk wat in ’n vergange werklikheid probeer bestaan, versaak haar roeping.

Die kerk is egter altyd ’n vreemde verskynsel in die wêreld, al is dit ook deel van die wêreld. Dit was nog altyd so – selfs in tye toe die kerk verskeie samelewings beheer het. Ons ken almal die Bybelse segswyse dat die kerk wel in die wêreld is, maar nie van die wêreld nie. Wanneer die wêreld egter vir die kerk vreemd geraak het tot dié mate dat die kerk glad nie meer die wêreld kan verstaan of daarin kan funksioneer nie, raak dit vir die kerk ’n baie groot probleem om so geheel en al uit pas met die wêreld te wees. In die huidige tyd het ons by ’n punt gekom waar die verhouding tussen die kerk en die wêreld baie problematies geword het. Baie mense neem afskeid van die kerk omdat hulle meen die kerk is in so ’n mate deel van ’n ou wêreld wat besig is om weg te kwyn, dat sy ook mettertyd saam met die ou wêreld sal verdwyn. In reaksie hierop veg die kerk verbete om verlore aansien te probeer herwin. Die kerk vra haarself in ons tyd gedurig af aan watter behoeftes van mense sy kan voldoen om weer ’n vaste plek en ’n onmisbare doel in die wêreld te kry. Wat moet die kerk doen sodat mense haar weer nodig kry en net nie sonder haar kan klaarkom nie? Deur hierdie benadering te volg, soek die kerk op die verkeerde plekke na redding van ondergang. Die kerk sal nie haar relevansieverlies te bowe kan kom deur bloot ’n kulturele res uit ’n vergange wêreld te hermodelleer volgens die nuutste neigings en modes wat in die wêreld geld nie. Die kerk se selfbemarking op die markplein van verbruik en menslike behoeftebevrediging is riskant. Onthou, die meeste handelsware se raklewe is baie kort – kort voor lank word ouer produkte deur nuwes vervang. Selfs deftige nuwe verpakking kan uitgediende produkte nie red teen ’n aanlag van entrepreneurs wat deur kommersiële vindingrykheid onophoudelik nuwe produkte op die reeds versadigde mark stort nie. ’n Kerk wat meen sy het met God as vennoot ’n strategiese voorsprong teenoor die opposisie wanneer daar om klante meegeding word op die verbruikersmark wat op massakonsumpsie ingestel is, sal kort voor lank bankrot wees en deure toemaak − soos ’n mislukte besigheid.

Bestaan daar vir die kerk ’n alternatiewe benadering tot kerk-wees, naas die twee benaderings wat hier onder die loep geneem is? Kan die kerk iets anders wees as uitgediende ou wêreld, of as net nog ’n minderwaardige kultuurproduk op ’n wêreldmark met ’n groot ooraanbod van uitnemende produkte, maar met beperkte koopkrag?

Om te kan oorleef, moet alle mense hulself oriënteer aan die hand van ’n omvattende geheel van ervarings, denke en ander menslike aktiwiteite − wat wel net fragmentaries in ’n greep gekry kan word en boonop voortdurend verander. Hierdie oriëntasie behels meer as om net ’n wêreldbeeld te ontwerp of om bewus te word van jou eie leefwêreld. ’n Mens skep vir jouself ’n simboliese verwysingsraamwerk waarbinne alles in die lewe vertolk kan word sodat daar gelewe kan word. Jou eie simboliese verwysingsraamwerk kan soms oorvleuel met dié van ander mense, of dit kan selfs grootliks ooreenkom met dié van mense wat jou waardes deel en baie soos jy dink en leef. Hierdie raamwerke word van nog groter belang wanneer mense die sin van die lewe probeer ontdek, na geluk en vreugde soek, of na vrede hunker. Dit word onontbeerlik wanneer hulle na heil smag. Godsdiens, geloof, morele oortuigings, politieke opvattings, vrese, waardes en dergelike sake is gewoonlik integrale boustene van hierdie raamwerk. Wanneer ’n mens sekere ervarings of oortuigings nie met jou simboliese raamwerk kan integreer nie, beleef jy spanning wat kan groei tot radeloosheid en wanhoop. Hoe fragmentaries jy nou ook al jou eie lewe en die werklikheid mag ervaar, het jy steeds ’n geïntegreerde simboliese verwysingsraamwerk nodig om te kan lewe.

In Suid-Afrika was almal bedag op die politieke verandering wat sou kom sedert 1994. Soos wat die politieke proses sedert 1994 voltrek is, moes mense aanpas. Om maar enkele voorbeelde te noem: vrese moes besweer word, verwagtings moes getemper word, teleurstellings moes verwerk word, suksesse moes oordadig gevier word en nuwe beloftes moes gemaak word om die ontnugterde massas in toom te hou. Wat egter opvallend is, is dat die verandering wat Suid-Afrika sedert 1994 getref het, feitlik uitsluitlik vertolk word as politieke verandering. Oral gaan nou stemme op dat die politieke transformasie wat die land sedert 1994 ondergaan het nie voldoende is om die land op koers te kry na ’n voorspoedige toekoms nie en dat dit nou opgevolg moet word deur ekonomiese transformasie. Dit is sekerlik waar dat iets drasties gedoen sal moet word om die gaping te verklein tussen die klein groepie ultrarykes en die massa brandarmes. Die relatiewe klein middelklas (die salaristrekkende belastingbetalers) verkeer onder geweldige ekonomiese druk en sommiges van hulle verarm by die dag. Ekonomiese ontwikkeling moet uit die aard van die saak ’n prioriteit op elke Suid-Afrikaner se agenda wees. Wat egter opval, is dat so min gemaak word van die sosiale en kulturele veranderinge waaraan die land die afgelope paar jaar blootgestel is. Aan die slaap gesus deur ’n oormaat verbeeldinglose verbruikerskultuur, word die meerderheid Suid-Afrikaanse wêreldburgers passief meegesleur deur die nuutste kulturele aanbiedings vir massakonsumpsie van Amerikaanse maatskappye wat uit China besigheid doen. Buiten ’n flouerige poging van die voormalige staatspresident, Thabo Mbeki, om impuls te gee aan die proses van kulturele transformasie deur die konsep van ’n Afrika Renaissance in te span, het eintlik niks betekenisvol of rigtinggewend gebeur nie. Die kultuurleiers is stil – stil tot dié mate dat ’n mens wonder of hulle ooit besef wat aan die gebeur is. Om haar huidige posisie en kwynende invloed in die samelewing te verstaan, sal die kerk aandag moet skenk aan die sosiale en kulturele verandering wat ons land sedert 1994 getref het, en hoe dit die simboliese verwysingsraamwerk van die gemiddelde mens onherroeplik verander het.

Verskeie kritici van die kerk meen die kerk se relevansie verlies in die huidige Suid-Afrikaanse samelewing het uit en uit te make met die politieke rol wat die kerk in die apartheidsbedeling gespeel het. Aan die een kant het die tradisionele Afrikaanse kerke in so ’n mate die ideologie van apartheid gesteun, regverdig en daaraan meegewerk, dat hulle na die val van die Nasionale Party nie net polities irrelevant geraak het nie, maar ook as moreel bankrot uitgewys is en geen geloofwaardigheid meer inboesem nie. Die kerke wat die struggle gesteun het, bevind hulle weer in ’n lugleegte, noudat die stryd om politieke bevryding min of meer afgehandel is, en soek nou na ’n plekkie in die nuwe bedeling deur aan ’n paar programme vir sosiaal-ekonomiese opheffing deel te neem. Die enkele geestelikes wat die guns van die ANC-elite tydens die struggle geniet het, is op enkele uitsonderings na gemarginaliseer en sit nou self ook op die rand van die samelewing. In kort, die rol van die kerk in die samelewing het so problematies geword dat feitlik alle Suid-Afrikaners moeite ervaar om aan die kerk ‘n sinvolle plek te gee binne hul onderskeie simboliese verwysingsraamwerke. Kerk en godsdiens het vandag alleen nog ’n plek in mense se simboliese verwysingsraamwerke as privaataangeleenthede wat met die heil van enkelinge te make het. Die kerk se relevansiekrisis is egter baie groter as dat die kerk polities op die rand van die samelewing gedruk is. Die kerk se krisis het nie net te make met ’n land wat polities verander het nie − dit het veral te make met ’n wêreld wat kultureel onherroeplik verander het. Die wêreldwye kulturele verandering het die meeste mense se simboliese verwysingsraamwerke ondermyn, sodat hulle nou gedisoriënteerd is.

Kulture verander voortdurend. Selfs kulture wat stagnant mag voorkom, verander − al is die tempo van verandering stadig en die omvang van die verandering gering. Die Westerse kultuur het oor eeue verander asof dit in ’n stroomversnelling vasgevang is. Die verandering het al vinniger en al hoe meer ingrypend plaasgevind soos wat die tyd aangestap het. Breedweg benoem ons die veranderinge binne die Westerse kultuur met name wat na lang tydperke verwys: die Antieke Tyd, Vroeg Christelike Europa, die Middeleeue, die Renaissance, die Tyd van die Reformasie en dan, sedert die Europese Verligting, die Moderne Tyd. Sommige mense meen die Moderne Tyd is iets van die verlede, maar hulle het nog nie ’n nuwe naam vir die nuwe tyd wat aangebreek het nie en praat daarom sommer van die Postmoderne Tyd. Dit dui aan dat die Westerse samelewings besig is om afskeid te neem van die Moderne, maar die proses is klaarblyklik nog nie voltrek nie en niemand weet mooi waarheen die Westerse kultuur op pad is nie. Die Weste kan haarself slegs beskryf in terme van die kultuur waarvan sy besig is om afskeid te neem.

Suid-Afrikaners was grootliks beskerm teen die kulturele proses wat ongeveer die afgelope 300 jaar in die Weste voltrek is, ongeag die feit dat Suid-Afrikaanse blankes hulself graag as Westerlinge verstaan. In ’n tyd waarin die internasionale kommunikasiesisteme nog nie goed ontwikkel was nie en Suid-Afrika geografies ver verwyderd van Europa was, was dit vir die burokrasie redelik maklik om die bevolking oningelig te hou en om die inwoners van die land in ‘n groot mate te weerhou van inligting wat hulle magsbasis kon ondermyn. ’n Staatsbeheerde media, publikasiebeheer en sensuur, politieke, sosiale, morele en godsdienstige indoktrinasie en dergelike maatreëls is effektief gebruik om die breë bevolking gehoorsaam te hou. Alle landsburgers het hul plek in die gemeenskap geken, min is bevraagteken en die politieke leiers is onvoorwaardelik vertrou met die land se toekoms. Opponerende stemme is stilgemaak, verdag gemaak en, asof dit belaglik is, as dom, oningelig, kwaadwillig, boos of kortsigtig voorgestel. Die politici in Suid-Afrika het Voltaire se raad ter harte geneem dat dit goed is om jou onderdane dom te hou, want dit is nou maar eenmaal makliker om oor dom mense te regeer as oor mense wat gewoond is om hulle eie verstand te gebruik. Niemand is vrye teuels gegee om vir hulself te dink nie − almal is voorgeskryf wat om te dink en wat om te glo. Selfs op universiteite is studente gemaan om nie buite die voorgekrewe riglyne te beweeg met die beoefening van wetenskap nie. Ek onthou nog goed hoe sekere bronne in universiteitsbiblioteke in geslote, beheerde versamelings gehuisves is en streng kontrole gehou is oor die gebruik daarvan. Alleen met skriftelike toestemming van die gesagsdraers kon jy toegang daartoe verkry, maar wie die bronne gelees het, het ook geweet die veiligheidspolisie sou hulle dophou vir ’n tyd – ’n baie lang tyd. Dit was nie in die eerste plek die kerk wat destyds die vloei van inligting aan bande gelê het nie − dit was die staat. Enige iets nuuts was dadelik as volksvreemd gebrandmerk en in die kiem gesmoor.

Toe kom 1994. Die hekke word oopgegooi. Inligting begin om vrylik te vloei. Toevallig beleef die wêreld ook in daardie tyd die sogenaamde kennisontploffing wat moontlik gemaak is deur snelle vooruitgang op tegnologiese gebied, veral wat die ontwikkeling van rekenaartegnologie en die Internet betref. In ’n ommesientjie het die virtuele ruimte die nuwe locus vir inligting en kennis geword. So gebeur dit toe ook dat die Europese Verligting en al die konsekwensies daarvan, wat oor meer as 300 jaar stadig ryp geword het, Suid-Afrika tref soos ’n skielike donderstorm. Almal vier die nuutgevonde vryheid, maar baie wat te vinnig te ver wou swem, weg van die veilige hawe af, het reeds verdrink in die stormwaters van ’n kultuur wat net te oorweldigend is. Die storms van verligte kultuur wat Suid-Afrikaners sedert 1994 getref het, het baie mense se ou gevestigde simboliese verwysingsraamwerke aan flarde geruk en nie almal was gereed of opgewasse vir vinnige aanpassing nie. Baie mense het net eenvoudig nie meer ’n goed geïntegreerde simboliese verwysingsraamwerk waarbinne hulle sin kan probeer maak van ‘n verwarrende wêreld nie. Die plek wat kerk en godsdiens ingeneem het in die simboliese verwysingsraamwerke van baie mense is nou leeg en daarom soek hulle verward na iets, maar hulle is self nie eers seker waarna hulle nou eintlik soek nie.

Indien die kerk verstaan dat die verandering van die land se godsdienstige demografie met veel meer te make het as net dat by ’n nuwe mode aangepas moet word, sal die kerk dalk weer met ’n boodskap kan kom wat fundamentele betekenis vir mense kan hê. ’n Evangelie is nodig wat die verbeelding van mense sal aangryp tot so ’n mate dat dit hulle sal help om hul stukkende wêreld en hul ewe stukkende lewens weer te begin heelmaak. Die afgelope 300 jaar neem Westerlinge afskeid van God en die kerk in die naam van die Moderne, maar ons almal weet die Moderne het nie ware heil om aan mense te bied nie en is self ook sterwend. Vandag wil Suid-Afrikaners in die naam van die Postmoderne afskeid neem van God en van die kerk. Ons weet ook die Postmoderne sal nie die heil bring waarna mense smag nie. Om van ’n mislukte verlede af te vlug, bring jou nog nêrens uit nie. Die kerk sal opnuut erns moet maak met haar taak om die evangelie van heil relevant te verkondig, sodat dit nie net bevryding bring nie, maar ook nuwe hoop.

Tradisie
Georg Wilhelm Friedrich Hegel (1983) verduidelik dat die moderne ingesteldheid van mense tot gevolg het dat hulle nie meer hul lewensoriëntasie in voorbeelde uit die verlede vind nie, maar dat hulle self die skeppers word van al die maatstawwe wat hulle in die lewe aanlê om alles en nog wat te beoordeel. Op die voetspore van Hegel wys Hans Blumenberg (1988) daarop dat moderne mense ’n radikale breuk met die tradisie wil voltrek. Immanuel Kant (1983) verduidelik ook goed waaroor dit essensieel in die moderne benadering tot die lewe gaan, wanneer hy skryf:

Verligting [en so ook modernisering] is die ontsnapping van mense uit hulle selfopgelegde onmondigheid. Onmondigheid is die onvermoë om vir jouself te dink, sonder hulp van ander. Onmondigheid is selfopgeleg wanneer dit nie toegeskryf kan word aan ‘n gebrek aan gesonde verstand nie, maar wel aan die moed wat ontbreek om vir jouself te dink sonder die hulp van iemand anders. Sapere aude! Skep moed om vir jouself te dink! Dit is die slagspreuk van die verligting. (Outeur se vertaling vanaf oorspronklike Duitse teks).

Die boodskap van die moderne ingesteldheid is duidelik: dink vir jouself, eerder as om jou op voorbeelde uit die verlede of die gesag van ’n ander te verlaat.

Mense se pogings om van hul verlede af weg te breek, kom hulle egter duur te staan. Mense sonder wortels in enige tradisie is wel selfgenoegsaam, maar hulle is kultureel baie arm. Tradisie gee diepgang aan kultuur. Kultuur sonder enige tradisie wat daarin opgeneem is, word gedoem tot oppervlakkigheid. Ons hoef egter nie slawe van die verlede te wees om ’n historiese geheue te kan ontwikkel nie. Net so hoef ons nie tradisionaliste te wees om waardering vir tradisie te ontwikkel nie. As mense se verlede vergete raak, word hulle wêreld stil en leeg. Net dwase verseg om ooit aan ’n kulturele verlede herinner te word. Ons moet die verlede altyd weer opsoek – nie net om te weet waarvandaan ons kom nie, maar ook om te verstaan hoe ons gekom het waar ons nou is en selfs ook om koers te probeer gee aan waarheen ons op pad is. Anders as selfoortuigde moderne mense, wil ons daarom nie ten alle koste afskeid neem en wegkom van die verlede nie, maar eerder weer besoek aflê by ons onderskeie kulturele tradisies − veral dié tradisies wat nooit deel gevorm het van die hoofstroom kultuur nie en daarom grootliks in vergetelheid geraak het as gevolg van die uitsluitende karakter van die projek van die moderne.

Ons weet dat die hede nou nie juis aan die toekomsverwagtinge en toekomsdrome van die verlede voldoen nie. Ons moet nou nie om hierdie rede van die verlede af vlug in ’n poging om die hede beter te laat lyk nie. Ons moet eerder hieruit die les leer dat ons toekoms ook nie dit gaan wees wat ons dink dit behoort te wees nie. Ons moet uit die mislukte toekomsverwagtinge van die verlede leer om meer verantwoordelik aan ons eie toekoms te bou, maar ons moet ook meer beskeie word oor wat ons van die toekoms kan verwag. Die vae tekens van latente kulturele potensiaal wat in ’n verlossingsbehoeftige verlede opgesluit lê, moet weer raakgesien en herontgin word.

’n Moderne lewensbenadering vind vandag neerslag in die kerk deurdat mense los van enige tradisionele bande hul geloof wil beleef en uitleef. Die moderne gelowiges redeneer dat hulle nie daarin belangstel om na vertellings uit die Bybel te luister wat handel oor wat God destyds vir ander mense gedoen het, of hoe ander mense hulle geloof ervaar en onder woorde gebring het nie. Hulle wil nou en hier ’n lewende verhouding met God hê, hoor wat Hy nou vir hulle kan doen én wat hulle vir Hom kan doen. In godsdiens gaan dit vir moderne mense oor hier en nou, oor hulleself en hulle belewing van die oomblik. Natuurlik word elke mens se geloof bepaal deur ’n verhouding met God in die hede, maar dit is kortsigtig om te dink hierdie verhouding is nie in enige geloofstradisie(s) ingebed nie. Ek wil nie beweer dat alle geloof slegs as een of ander tradisionele geloof moontlik is nie, maar ek wil aandui dat selfs geloof wat teenoor ’n bepaalde tradisionele geloof opgerig word, self op een of ander manier uit die tradisie put waarteen dit gekant is. Enige antitese veronderstel ’n tese waarteenoor dit opgestel word. Alle godsdienste put uit tradisionele oorlewerings van ’n godsdiensgemeenskap. Daarom kan godsdienstige vernuwing nooit ’n volkome breuk met ’n bepaalde godsdienstige tradisie impliseer nie. Die benamings Christen, Jood, Moslem, Hindoe, of wat nou ook al, dui almal daarop dat die aanhangers van die bepaalde godsdiens op een of ander manier met ‘n oorgelewerde godsdienstige tradisie assosieer. Dit lyk nie of ’n onbemiddelde verhouding met God moontlik is nie. Elke ervaring wat enige mens met God het, hoe uniek en persoonlik ook al, vind altyd plaas binne die raamwerk van vele ander mense se ervarings met God. God is alleen kenbaar deur godsdienstige tradisies en jy kan Hom net ontmoet as dié God wat self die oorsprong is van die tradisies waarin Hy gehuldig word.

Enige godsdienstige tradisie het nie net historiese of referensiële waarde nie. Dit het aktuele betekenis deurdat dit mense wat die tradisie leer ken, konfronteer met die geloof wat daarin verwoord word. Wanneer ’n mens die verhaal lees wat oor Moses en sy mense se uittog uit Egipte handel, lees jy nie alleen daarvan dat God dié mense se Redder was nie − jy word ook met die moontlikheid gekonfronteer dat God ook vir jou ’n Redder kan wees. Wanneer ’n mens lees dat Jesus vir sy dissipels gevra het wie hulle meen Hy is en Petrus dan namens die groep geantwoord het dat Jesus die Christus is, verneem ons nie net wat Petrus se antwoord op Jesus se vraag was nie, maar word ons ook terselfdertyd gekonfronteer met die vraag: ‘Wie meen ek is Jesus?’ Die Bybel vertel en berig nie net oor sake van die verlede nie, maar dit verkondig God se wil aan ons en getuig van sy redding. Die Bybel rig altyd ’n appèl tot ons om op God se woord wat ons hoor te antwoord. Deur die Bybel praat God nou met ons − net soos wat Hy in die verlede deur dieselfde Bybel met baie ander mense ook gepraat het. Wanneer ons deur die Bybelse boodskap tot geloof kom, staan ons in ’n geloofstradisie, of ons dit nou wil weet of nie. Dit beteken nou nie dat die gelowiges bloot ‘n gestolde, steriele tradisie ontvang en bewaar nie. Om die tradisie wat aan hulle oorgelewer is te kan bewaar, moet hulle aktief deelneem aan die uitbouing van die tradisie en so word hulle self ook deel van die tradisie wat verder oorgelewer word. Die kerk verkondig nie net die evangelie nie, maar word self ook deel van die evangelie wat verkondig word. Die kerk is nie bloot ’n gemeenskap van gelowiges nie, maar is die gemeenskap van die geloof, want die gemeenskap kom deur die geloof, en slegs deur die geloof, tot stand. Dit is nie moontlik om die evangelie te glo en terselfdertyd nie deel te neem aan die gemeenskap van die geloof nie. Wie glo, word uit eie keuse gebonde aan die geloofstradisie.

Die Pauliniese nagmaalsteologie kan ons moontlik help om die saak waaroor dit hier gaan beter te verstaan. Die gedagte dat die nagmaal gebruik moet word tot ‘gedagtenis’ van die Here vind ons by Paulus en Lukas, maar nie by Markus en Matteus nie. Wat beteken dit om die nagmaal tot ‘gedagtenis’ van die Here te vier? Wat beteken die Griekse woord ἀνάμνησις wat Paulus en Lukas in hulle nagmaalstekste gebruik en wat in ons Afrikaanse vertalings met ‘gedagtenis’ vertaal word? Die Nuwe Testamentiese Griekse woordeboeke se vertalingsvoorstelle is soos volg: the means for causing someone to remember [reminder] (Louw & Nida 1988) en Erinnerung (Bauer 1985). Die algemene Griekse woordeboeke dui die moontlike betekenis van die woord aan as: a calling to mind, recollection (Liddell & Scott 1988), Erinnerung, Wiedererinnerung (Passow 1993) en het zich weer te binnen brengen, herinnering, beroep, (ver)maning (Den Boer 1969). Daar kom in die woord egter méér ter sprake as wat uit die woordeboeke blyk. Eietydse studies oor die nagmaal toon oortuigend aan dat die ‘gedagtenis’ nie primêr ’n geestelike terugskouing of herinnering (aan ’n afgestorwene) is nie, maar wel ’n teenwoordigstelling van ’n verteenwoordigende verlede. Dit gaan dus nie oor die blote herinnering aan ’n afgestorwene nie, maar oor dat ons by die nagmaal moet rekening hou met die teenwoordigheid van ’n lewende persoon − die opgestane Here. Die nagmaal proklameer die teenwoordigheid van die lewende Here binne die gemeenskap van die geloof. Die opgewekte Christus funksioneer by die nagmaal soos ’n beliggaamde belofte vir die hele skepping: Hy is die prototipe van hulle wat vir God se ryk bestem is. Christus wat by die nagmaal teenwoordig is, is deurdring van die lewendmakende Gees van God. Daarom gaan die lewendmakende Gees ook van Hom uit om nou reeds hier die gelowiges met nuwe lewe te vul. So werk die kragte van die nuwe skepping in Hom en deur Hom in hierdie wêreld.

Geloofstradisie is nie bloot gelowiges se herinnering aan en instemming met standpunte wat vroeër gehandhaaf is nie, maar die teenwoordigstelling van geloofsoortuigings uit die verlede. En dan nie as ’n poging om die geskiedenis te herhaal nie, maar wel as aktuele oortuiging wat meer en meer gestalte kry. In kerklike taal gesê: Dogmas word nie bloot as waar beskrywende stellings oor God onderskryf nie, maar gelowiges hoor opnuut die aansprake en beloftes van God wat uit die tradisie tot hulle spreek. Om te glo, beteken nie om die korrektheid van uitsprake oor God te aanvaar nie, maar om in geloof voor die aanspraak van God op hulle lewens te buig met dankbaarheid en lofbetuiging.

Die Nederlandse sanger Stef Bos (2003) sing ’n liedjie oor Suid-Afrika wat die saak waaroor dit hier gaan vanuit ’n sekulêre perspektief goed toelig. Hy sinspeel op die woorde ‘Ons vir jou Suid-Afrika’ wat uit die Suid-Afrikaanse volkslied, die tradisie van die Afrikaner, kom en sing dan:

Jy is vir my nie jou verlede

Jou sentiment jou ossewa

Jy’s vir my alleen die toekoms

Jy vir my Suid Afrika.

Die land se bekoring lê nie vir Bos in haar steriele sentimente of versmorende verlede nie, maar in haar potensiaal wat verwesentlik kan word, of in haar toekoms wat ontsluit kan word. Die verlede dui op die toekoms. Die teleurstellende verlede dui op die moontlikhede van die toekoms. In die toekoms van die land lê die moontlikheid van nuwe lewe en lewensvervulling opgesluit. Net so is Christus vir ons, die gelowiges, nie net ’n blote herinnering aan ’n man wat was nie. Hy is vir ons suiwer toekoms − dié toekoms, want Hy is deur God uit die dood opgewek. Anders gesê: die eskatologiese spanning wat destyds Jesus se lewe, werk, woorde, dood en opstanding bepaal het, ontsluit vir die gelowiges ’n nuwe toekoms.

Streng gesproke kan gelowiges nie modern wees nie. Ons kan nie ons tradisie prysgee nie, want dan verloor ons ook ons hele toekoms. Christus (wat ons ken as die historiese Jesus, maar ook die eskatologiese Here) is ons toekoms − Hy is ons lewe. Sonder Hom is nuwe lewe en ware toekoms nie moontlik nie.

Eenheid in gesindheid en waarheid
In die Kerk is daar ’n bepaalde groepering, die sogenaamde Steedshervormers, wat daarop aanspraak maak dat hulle die groot meerderheid van lidmate in die Kerk verteenwoordig. In die verlede mag dit dalk die geval gewees het dat baie lidmate van die Kerk die standpunte gesteun het wat die groepering huldig, maar tans getuig die aanspraak van die groepering dat hulle groot steun sou geniet daarvan dat dié groep hulle eie aanhang en magsposisie in die Kerk oorskat. Die groep is tans besig om broksgewys bande met die Kerk te verbreek. Die groep het in die verlede al vir hulle verskeie beskrywings opgeëis en ander mense het ook al verskeie name gebruik om hulle te beskryf. Die groep beskryf hulself as behoudend (nie progressief nie), konserwatief (nie liberaal nie), ortodoks (nie vrysinnig nie), evangelies (nie ekumenies nie), tradisioneel (nie volksvreemd nie), reformatories (nie katoliek nie) – om maar enkele voorbeelde te noem. Ander beskryf die groep met beskrywings soos verkramp, fundamentalisties en Negrofobies. Die groep is identifiseerbaar aan ‘n eie populêre teologie met vaste eienskappe. Ek verstaan dié groep se teologie in breë trekke soos in die onderstaande beskrywing weergegee.

Die Bybel en die Kerklike belydenisskrifte is die norm waaraan alle teologie gemeet word en as norm vir die beoordeling van teologie, het die Bybel en belydenisskrif dieselfde gesag, omdat die twee volkome in ooreenstemming met mekaar is. Daar word wel tussen die sogenaamde norma normata en norma normans onderskei, as dat die Bybel meerdere gesag teenoor belydenisskrif sou hê, maar omdat die Bybel en belydenisskrif volkome in harmonie is, is die onderskeid bloot formeel. Alle teologiese ontwikkeling het in beginsel tot ’n einde gekom met die reformasie van die sestiende eeu, want die waarheid is destyds volkome en genoegsaam in die belydenisskrifte van die Calvinistiese Kerke geformuleer. Waarheid is daarom uit die aard van die saak ook vas, onveranderlik, konteksloos en formuleerbaar in vaste, onveranderlike proposisies. Teologie is sedert die reformasie van die sestiende eeu vir alle praktiese redes niks anders nie as historiese navorsing met die doel om ou insigte te herontgin en as teologiese waarhede te herhaal sonder om dit te interpreteer of histories te kontekstualiseer. Die Christelike waarheid is reduseerbaar tot beskryfbare historiese feite wat belydenismatig geformuleer kan word en wat deur alle reggelowige Christene onderskryf word. Hierdie historiese feite funksioneer as ’n kanon in die kanon en as belydenis in die belydenis. Die sogenaamde heilsfeite sluit sake in soos die maagdelike geboorte van Christus, dat Christus werklik al die wonderwerke gedoen het presies net soos wat dit in die Bybel opgeteken is, dat Hy alles sou gesê het wat in die Bybel aan Hom toegeskryf word, dat Hy aan die kruis gesterf het, dat Hy fisies uit die dood opgestaan het, dat Hy fisies na die hemel daar bo opgevaar het en dat Hy weer kom om almal tot die hel se vuur en die verdoemenis te veroordeel wat nie die genoemde feite aanvaar nie. Die geloofswaarhede behels egter meer historiese feite as net die sake wat reeds genoem is en met Jesus in verband staan. Dit is ook ‘n feit dat God so ’n paar duisend jaar gelede die hele werklikheid in ses dae gemaak het. Die skeppingsverhale is in der waarheid nie verhale nie, maar die registrasie van feite wat alle ander wetenskaplike teorieë oor die ontstaan van die werklikheid weerlê. Net so is die sondvloed verhaal nie ’n verhaal nie, maar die registrasie van feite wat glo met lugfoto’s van die oertipiese Titanic en stukkies hout wat gekry is, bevestig kan word. Die toring van Babel was die 9/11 van die Antieke Tyd wat nie alleen die feit van volkeverskeidenheid verklaar nie, maar ook sommer apartheid sanksioneer en die gedagte van ’n volkskerk legitimeer.

Die groep het selfs ook sy eie apokriewe boek. Formeel vorm dit nie deel van die kanon nie − dit funksioneer eerder soos ’n hermeneutiese sleutel vir die groep waarmee die verborgenhede van die Skrif eenduidig ontsluit kan word. Dit is die bril waardeur alles in die Bybel gelees word. Die apokrief is die profesieë van Siener van Rensburg, die Afrikaner se eie Nostradamus.

Met die Siener as vertrekpunt ontvou die apokaliptiese beklemming van die groep se teologie. Die Boerelaer moet getrek word, al die lede van die volk moet besluit of hulle in of uit is. Wie anders dink, of lyk, of ’n ander taal praat, is nie welkom in die laer nie. Daar is ook nie plek vir draadsitters of twyfelaars nie. Die grense van die laer moet nougeset gepatrolleer word om indringers uit te hou, die vrouens en kinders te beskerm en om bo alles die waarheid nie net te beskerm nie, maar vir die uitverkorenes in besit te hou. Van buite die laer dreig die bose vyandige wêreld met ’n totale aanslag onder invloed van die kommuniste met Satan self as opperbevelvoerder. Die stryd is egter nie ’n stryd teen vlees en bloed nie. Dit is ’n stryd teen die bose magte in die lug en dit gaan om die siel van die mens. Daarom is dit in die eerste plek ‘n stryd teen die ekumenies gesinde wêreldkerk met haar ketterse teologie en verskeie bondgenote uit die hel. Waak en bid! En as jy gedwing word om te kies tussen dié twee, waak eerder. Die apokalips is op hande − die tekens van die bloedige einde is orals te sien. Bewapen jou vir die stryd − nie net met die evangeliese wapenrusting nie, maar met aggresiewe woordgeweld en verkettering van die andersdenkende. Ons kerke sal forte wees wanneer die aanval begin − beveilig dit teen vermeende restitusie.

Die kerk van Christus is natuurlik een, redeneer hierdie groep, maar die eenheid is eenheid in waarheid en ons, slegs ons, ken die waarheid en besit dit ook. Daar is net een manier om deel te word van die een ware kerk van Christus en dit is om by ons sekte aan te sluit. Ons, redeneer die volk, is die heilige res, wat vasstaan in die waarheid noudat die res van die kerk dwaal.

Die Nuwe Testament verstaan kerklike eenheid ook as eenheid in waarheid, maar die Nuwe Testamentiese waarheid is nie ’n paar feitelike proposisies wat willekeurig deur mense gekies word nie. Dit is die vleesgeworde Woord, die persoon Jesus Christus. Die locus van die goddelike waarheid is nie menslik geformuleerde dogmas nie, maar God se openbaring in Christus. Waar Christus as Hoof en Here van sy liggaam (die kerk) bely word, kry kerklike eenheid gestalte. Die skrywer van die Brief aan die Efesiërs is byvoorbeeld besorgd oor die eenheid van die gemeente en die kerk. Om hierdie rede vermaan hy die kerk om geduldig en verdraagsaam te wees. Elke gemeente moet hom invoeg in die een, heilige, algemene kerk en die verskillende gemeentes van die een kerk moet mekaar in liefde verdra en ook mekaar se sorge dra. Die kerk moet in staat wees om in vrede met haarself te kan lewe, met ander woorde die verskillende gemeentes moet in vrede met mekaar lewe. Die gedagte van die eenheid van die kerk word in Efesiërs 4:1−6 sterk op die voorgrond geplaas. Dit gaan daar oor die eenheid wat tot stand kom wanneer mense geroep word om tot die heilsgemeenskap van die kerk toe te tree. Die eenheid van die kerk is eenheid in waarheid en in die Gees. Die kerk is verplig om die kerklike eenheid wat deur God bewerk word, te bewaar. Die kerk is een liggaam en een Gees. Dit staan onder die gesag van een Here en dit behoort aan een God en Vader.

Die boodskap van hierdie deel het blywende betekenis vir die kerk van ons tyd. Die eietydse Christendom bestaan as baie verskillende kerkgenootskappe (belydeniskerke) en ’n aantal ander Christelike groepe wat van die kerk af geskei het. Onder hierdie omstandighede, teen die agtergrond dat kerklike eenheid al meer en meer verbrokkel, mag die gedagte nie laat vaar word dat Jesus Christus die enigste Heer van die kerk is wat die kerk deur Sy een Gees bou nie. Wat veral van deurslaggewende betekenis kan wees vir die verstaan en die uitbouing van die eenheid van die kerk, is die feit dat een doop (met die belydenis van een Here nou daaraan verbonde) die basis kan vorm vir die eenheidstrewe van die verskillende kerke. Solank as wat die een doop in die kerk gehandhaaf word, is al die pogings tot hervereniging nie tevergeefs nie. Dit is dan ook belangrik dat die eenheid van die kerk ondanks leerverskille en ander konfessionele verskille gehandhaaf moet word. Ons mag nie kerkisties wees in ons denke oor die kerk nie, maar ons moet altyd ekumenies ingestel wees. Self die Rooms-Katolieke Kerk (RKK) het in die afgelope tyd begin besef dat die spreuk ‘Extra ecclesia nullus salus est’ [buite die kerk is daar geen saligheid nie] allermins kan beteken dat daar geen saligheid buite die RKK is nie, maar wel dat daar geen saligheid buite die kerk van Christus is nie.

Die eenheid wat die Gees tussen gemeentelede en gemeentes smee is nie ’n gemeenskaplike gevoel wat mense deel nie, maar ’n eenheid wat tot stand kom omdat die gelowiges almal deel kry aan die teenwoordigheid en werking van die een Gees van God. Die eenheid word deur God geskenk en die gelowiges moet net die eenheid bewaar en handhaaf. Die gelowiges kan die eenheid van die kerk bewaar deur in vrede met mekaar te lewe. Die vrede wat God deur Christus aan die gelowiges geskenk het, moet die gelowiges onderling saambind.

Kerklike eenheid behels baie duidelik meer as net die aanvaarding en onderskrywing van dieselfde geformuleerde kerklike leerstukke. Kerklike eenheid beteken om deel te wees van die gemeenskap van geloof wat God byeen roep deur die verkondiging van die evangelie. Die eenheid van die kerk is wel eenheid in waarheid, maar dit behels ook kerklike eensgesindheid en onderlinge vrede.

In die Eerste Brief aan die Korintiërs (hoofstuk 3) skryf Paulus die onderlinge verdeeldheid binne die gemeente daaraan toe dat die gelowiges hulle nie deur die Gees van God laat lei nie en dat hulle soos vleeslike (wêreldse) mense, of soos kinders in die geloof is. Die beeld wat Paulus dan inspan om aan te dui dat eenheid in die kerk bewerk word deur saam op die fondament van Christus te bou, wys eerstens daarop dat mens nie met die fondament alleen kan volstaan nie – daar moet ook gebou word aan die gebou. Tweedens gaan dit daaroor dat God oor ons bouwerk sal oordeel. Wie kerklike eenheid ondermyn, gaan aan God self rekenskap gee daaroor.

Geen ideologie, vrees, apokaliptiese verwagting, onsekerheid, meningsverskil, of wat nou ook al mag kerklike eenheid ondergrawe nie. As gemeenskap van gelowiges moet die hele kerk eensgesind aan die waarheid van die evangelie vashou. Die kerk is die vertolkingsgemeenskap wat in die eerste plek verantwoordelik is vir die interpretasie en die verkondiging van die Woord. Ons eie Kerk behoort daarom altyd ernstig te besin oor kritiese vrae wat deur die kerklike tradisie, die wêreldwye kerklike gemeenskap, asook die teologie by ons wakker gemaak word oor ons eie verstaan van die Bybel. Geen kerk kan te selfversekerd wees dat sy alleen die waarheid van God se Woord verstaan nie. Ons moet altyd bereid wees om saam met ander gelowiges opnuut na die Woord te luister en dit te gehoorsaam. Wanneer ons verknogtheid aan ‘n bepaalde politieke ideologie ons daarvan weerhou om met die internasionale kerklike gemeenskap tot konsensus te kom oor die konsekwensies van die evangelie vir ons lewens, behoort ons nie selfversekerd ons rug te draai op ander kerke nie. Ons behoort met groter erns saam met die hele kerklike gemeenskap na eenheid in waarheid te bly soek.

Belydenis – bevrydende waarheid
’n Ou gereformeerde strydpunt word tans opnuut in ons Kerk op die spits gedryf. Dit handel oor die vraag of voornemende predikante die Kerklike belydenisskrifte moet onderskryf met ’n handtekening op ’n geskrewe verklaring omdat die belydenisskrifte in ooreenstemming met die Bybel is, of in hoeverre dit in ooreenstemming met die Bybel is. Die strydpunt as sodanig getuig van ’n bepaalde opvatting oor die Bybel, die belydenisskrifte en waarheid. Kennelik word hier van die veronderstelling uitgegaan dat alle fasette van die Bybelse waarheid in eenduidige, enkelvoudige en losstaande proposisies geformuleer kan word, dat die Kerklike leer volledig as ’n afgeronde sisteem in die belydenisse en belydenisskrifte omskryf is en dat alle waarheid as kontekslose, vaste en onveranderlike stellings geformuleer kan word.

Wanneer mense die waarheid van die geloof verwoord, gaan hulle altyd van veronderstellings uit wat in hulle gemeenskap as algemeen geldend aanvaar word. Hierdie kulturele, morele, sosiale, religieuse en wêreldbeskoulike veronderstellings is egter altyd in ’n historiese konteks gebed en daarom is dit ook veranderlik. Dit beteken dat selfs al sou waarheid vas en onveranderlik wees, die formulering daarvan altyd relatief is. Ons ken waarheid egter net as geformuleerde waarheid, daarom word ons gedwing om waarhede altyd te interpreteer en vir ons eie tyd te herformuleer. Tradisionele insigte oor waarheid kan nooit bloot herhaal word in ’n nuwe situasie nie − dit moet altyd ook aktueel toegepas word. Dit kan ook nie buite konteks van toepassing gemaak word nie. Dit is nie asof waarheid ’n geskenk is wat op verskeie maniere verpak kan word nie. Al sou die verpakking verander, bly die geskenk maar altyd dieselfde. Nee, waarheid en formulering is op so ’n wyse een dat dit nie geskei kan word nie. Dit beteken nou nie dat waarheid in alle gevalle van ’n spesifieke formulering afhanklik is nie. Ons ken egter nie waarheid sonder dat dit geformuleer word nie. Met betrekking tot tradisioneel oorgelewerde insigte oor waarheid, geld die ou hermeneutiese reël dat as jy ’n tradisionele waarheid onder nuwe omstandighede wil verwoord, moet jy dit reeds anders verwoord as wat dit oorspronklik onder woorde gebring is om dieselfde gesê te kry as wat aanvanklik bedoel was. Die onderskrywing van die waarheid soos verwoord in tradisionele belydenisdokumente kan daarom nie bloot beteken dat die oorgelewerde waarheid weer herhaal word nie, want die dokumente moet eers as historiese geskrifte met eksegetiese en hermeneutiese metodes ontgin word om die betekenis daarvan vas te stel, voordat die waarheid met geloofwaardigheid onderskryf kan word. Dit is verder van belang om die sistematiese konteks van belydenisdokumente ook te verreken tydens die interpretasieproses. Alle belydenisdokumente is deel van ‘n belydenistradisie. Dit beteken dat die fyner nuanses van enige belydenisdokument alleen ontgin kan word deur die bepaalde dokument met ander soortgelyke dokumente te vergelyk wat in min of meer dieselfde tyd ontstaan het as die dokument wat ondersoek word. Ook vergelykbare dokumente wat uit vroeër tye kom as die dokument wat ondersoek word, is uit die aard van die saak van belang. Verstaan gaan in hierdie geval hand aan hand met historiese navorsing.

Die populêre opvatting dat belydenisskrifte die uitsluitlike doel dien om bondige opsommings van die ‘Bybelse leer’ te bied, is bedenklik en in die meeste gevalle geheel en al ’n onvanpaste beskrywing van wat belydenisdokumente daadwerklik is. Hoewel baie belydenisdokumente ’n didaktiese benadering volg met die doel dat dit as kategesemateriaal kan funksioneer, het die meeste belydenisdokumente in polemiese situasies ontstaan en wil dit nie alleen dwaalleer weerlê nie, maar ook ‘n doksologiese funksie vervul deur die eer van God te dien en God se lof te verkondig. Reeds in hierdie verband kom ons egter te staan voor die wesentlike beperkings van menslike taal. Hoe kan ons met gebrekkige menslike taal die eer en lof van God na behore besing? Die dogmatiese formulering in terme van bewussynsfilosofiese denke dat God nie die grootste is van alles wat ons ons kan indink nie, maar dat Hy groter is as alles wat ons ons kan indink, dui tog duidelik daarop dat menslike belydenisse altyd maar net onvolkome formulerings oor God kan aanbied wat nie reg laat geskied aan Sy onbegryplike verhewendheid nie. Dit is om hierdie rede dat mens nie anders kan as om deur middel van metafore of analogieë oor God te praat nie. Dit was nie om dowe neute dat Jesus verkies het om in gelykenismatige taal oor God en Sy ryk te praat nie. Die indruk wat fundamentalistiese gelowiges vandag probeer skep − dat mens kan kies om óf in feitelike stellings óf in metafore oor God te praat − is misleidend. Feitelike stellings oor God is net soos metafore ook maar onvolkome en gebrekkige beskrywings van Hom. Trouens, dit is uiters onbevredigend om die belydenisuitsprake oor Jesus te wil inperk tot ontologiese stellings oor Hom, sonder om soos wat die belydenis dokumente self ook doen, eerder te wil nadink oor die soteriologiese funksie van die gebeure waaroor dit gaan.

Ons moet ook onthou dat kerklike belydenisdokumente nie self evangelie is nie, maar menslike reaksie of antwoord op die evangelie wat gehoor is. Alle belydenisdokumente is eintlik gelowiges se antwoorde op die vraag waarmee Jesus destyds sy volgelinge gekonfronteer het: ‘Maar wie sê julle is ek?’

Die feit dat verskeie gelowiges in ons tyd niks van kerklike belydenisse wil weet nie en dit afmaak as kettings waarmee hulle in die geloof gevange gehou word, is die direkte gevolg daarvan dat kerklike belydenisse op so ‘n wyse deur fundamentaliste as ’n regula fidei ingespan word dat dit die vryheid van die geloof smoor en geloof gevange wil hou in tradisionele formulerings daarvan − asof geloof nie ook anders uitgedruk kan word as wat dit in die verlede uitgedruk is nie. Dit is duidelik dat dit nie die kerklike belydenisse as sodanig is wat vir mense probleme skep nie, maar die wyse waarop fundamentaliste dit vertolk en gebruik om gewetensdwang op mense toe te pas. Kerklike belydenisse is nog nooit met die intensie geformuleer om die vryheid van geloof onder druk te plaas nie. Die intensie van belydenisformulering was nog altyd om die vreugde van die geloof te vier. Die waarheid wat bely word, is bevrydende waarheid wat getuig van redding en verlossing uit sonde en skuld. Wie die kerklike belydenisdokumente wil gebruik om deur gewetensdwang druk op mense te plaas om nie die evangelie nie, maar ’n fundamentalistiese vertolking daarvan te glo, tas nie alleen God se eer aan nie, maar word ’n struikelblok vir ander se geloof.

Die Kerk sal baie meer moeite moet doen om die belydenisdokumente te bevry uit die aanleenaanspraak van fundamentaliste en tradisionaliste daarop. Hierdie dokumente is die hele Kerk se erfenis. As die Kerk die selfaangestelde fundamentalistiese inkwisisie van ons tyd vrye teuels gee om ons belydenisdokumente te misbruik as magsmiddele om ander gelowiges mee te vervolg en uit die Kerk te verdryf, werk die Kerk self mee aan die ondergrawing van haar eie geloofstradisie.

Slotwoord

Die artikel wat hier aangebied word, is vanuit ’n bepaalde perspektief geskryf. Die perspektief is nie dié van ‘n objektiewe waarnemer wat van buite kyk nie, maar dié van ‘n deelnemer wat hart en siel by die Kerk betrokke is. Die deelnemer staan egter op die rand en kyk van die kant af.

As hoërskoolleerling het ek bewus geword van die sosiale implikasies om aan ’n minderheidskerk te behoort. Openlike diskriminasie in ons samelewing op grond van kerkverband was destyds algemeen. In daardie tyd het ek ook begin besef dat die samelewing jou nie alleen takseer vir wie jy is en wat jou bydraes is nie, maar veral op grond van met wie jy geassosieer word.

Nadat ek besluit het om teologie te studeer, het ek as student by die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) (deesdae die Universiteit van Johannesburg) ingeskryf vir ’n BA-kursus. Dit is ironies dat dit juis hierdie Broederbondinstelling was wat die fondasie vir kritiese denke by my gelê het en dat ek ervaar het dat minderheidsgroepe wel geakkommodeer kan word. Toe ek drie jaar later by die UP aanmeld vir studie aan die Teologiese Fakulteit het die dosente, op een uitsondering na, aan alle studente gelyke behandeling gegee (in so verre as wat ek dit kon waarneem). Die studente het jou egter oor die algemeen as laatkommer en randfiguur hanteer. Die Van der Hoff Teologiese Vereniging het hierin ’n vername rol gespeel. Die krampagtige konserwatisme, morele oppervlakkigheid en die onkritiese ingesteldheid van die deursnee-student het my ook dwars in die krop gesteek. Hoewel ek reeds aan RAU bewus geword het van die impak van sensuur op die samelewing, is dit hier aan UP dat ek die vernaamste meganismes leer ken het wat die destydse staat gebruik het om beheer oor die samelewing te behou. In hierdie verband dink ek veral aan die veiligheidspolisie en hul verfoeilike, verbeeldingryke informante, beheer oor die toegang tot inligting, diskriminerende wetgewing en regspleging, asook ideologiese indoktrinasie en geheime broederskappe wat amper alle belangrike samelewingsstrukture beheer of beïnvloed het. Ek het begin besef dat dit gevaarlik kan wees om in Suid-Afrika ’n randfiguur te wees.

Die artikel wat ek hier aanbied, het ek vir al die lidmate van die Kerk geskryf om te lees. Dit is egter veral vir die leiersfigure in die sentrum van die Kerk bedoel. Ek het geskryf vir hulle wat hulle waarskynlik vir my vervies het omdat ek so arrogant is om vir hulle ’n etiket om die nek te hang, vir hulle wat meen hulle weet van beter omdat hulle oor meer inligting as ekself beskik, vir hulle wat reken hulle hoef hulle nie juis aan my standpunte te steur nie, omdat ek min of geen invloed in die Kerk het nie, vir hulle wat meen hulle behoort nie na my te luister nie omdat ek te liberaal, verlig, ongelowig, hiperkrities, of wat nou ook al sou wees. Vir hulle wil ek vra, lees tog weer, want dit is vir julle ook nodig om te weet hoe sien ons dinge van die kant af. Onder filosowe is daar ’n grappie wat met verwysing na die formidabele Immanuel Kant vertel word. Dit lui: ‘As jy in die moeilikheid beland, swem Kant toe.’ Die Kerk is in moeilikheid − baie groot moeilikheid. Kyk daarom (met filosofiese wysheid) ook na wat hier op die kant aangaan. As jy egter sou dink die Kerk is nie in die moeilikheid nie, dan is daar vir jou soveel meer rede om te lees wat ek hier te sê het.

Erkenning

Hierdie artikel word aan professor P.M. Venter opgedra.

Medingende belange
Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Literatuurverwysings

Bauer, W., 1958, Griechisch-DeutschesWörterbuch zu den Schriften des Neuen Testaments und der überige urchristlichen Literatuur, Verlag Alfred Töpelmann, Berlin.

Berkhof, H., 1982, Inleiding tot de studie van de Dogmatiek, Uitgeversmaatschappij J.H. Kok, Kampen.

Blumenberg, H., 1988, Die Legitimität der Neuzeit, Suhrkamp, Frankfurt am Main. PMCid:1715527

Brink, A.P., 2009, ’n Vurk in die Pad: ’n Memoir, Human & Rousseau, Kaapstad/Pretoria.

Bos, S., 2003, Donker en Licht, EMI Musiek, Suid-Afrika.

Conzelmann, H., 1969, Der Erste Brief an die Korinther, Meyers Kritisch-Exegetischer Kommentar über das Neue Testament, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.

Den Boer, W., 1969, Beknopt Grieks-Nederlands Woordenboek, Wolters-Noordhoff, Groningen. PMid:4917508

Eco, U., 1994, Reflections on the Name of the Rose, Minerva, London.

Foucault, M., 1984, The Foucault Reader, ed. P. Rabinow, Penguin Books, London.

Gnilka, J., 1977, Der Epheserbrief, Herders theologischer Kommentar zum Neuen Testament X/2, Verlag Herder, Freiburg. PMid:605620

Habermas, J., 1985, Die Neue Unübersichtlichkeit, Suhrkamp, Frankfurt am Main.

Habermas, J., 1986, Der philosopische Diskurs der Moderne, Suhrkamp, Frankfurt am Main.

Hegel, G.W.F., 1983, Werke in zwanzig Bänden – Band 2 Jenaer Schriften 1801–1807, Frankfurt am Main.

Kant, I., 1983, Werke – Band 9, Wissenschaftliche Buchgesellschaft, Darmstadt.

Liddel, H.G. & Scott, R., 1975, An Intermediate Greek-English Lexicon founded upon Liddell and Scott’s Greek-English Lexicon, Clarendon Press, Oxford. PMid:1131629, PMCid:1673474

Louw, J.P. & Nida, E.A., 1988, Greek-English Lexicon, United Bible Societies, New York. PMCid:1267932

Matheson, P., 2000, The Imaginative World of the Reformation, T & T Clark, Edinburgh. PMid:20725170

Merklein, H., 1992, Der Erste Brief an die Korinther, Kapitel 1−4, Ökumenischer Taschenbuch- Kommentar zum Neuen Testament 7/1, Gütersloher Verlagshaus, Gerd Mohn.

Moltmann, J., 1984, Politische Theologie – Politische Ethik, Kaiser, München/Grünewald, Mainz.

Passow, F.,1993, Handwörterbuch der Griechischen Sprache, Band I/1, Wissenschaftliche uchgesellschaft, Darmstadt.

Sauter, G. & Stock, A., 1976, Arbeitsweisen Systematscher Theologie: Eine Anleitung, Chr. Kaiser Verlag, München.

Schnackenburg, R., 1982, Der Brief an die Epheser, Evangelisch-Katholischer Kommentar zum Neuen Testament X, Benziger Verlag GmbH, Zürich and Braunschweig.

Schrage, W., 1991, Der Erste Brief an die Korinther (1 Kor 1,1−6,11), Evangelisch-Katholischer Kommentar zum Neuen Testament VII/1, Benziger Verlag GmbH, Zürich and Braunschweig.

Schrage, W., 1999, Der Erste Brief an die Korinther (1 Kor 11,17−14,40), Evangelisch-Katholischer Kommentar zum Neuen Testament VII/3, Benziger Verlag GmbH, Zürich and Braunschweig.

Welsch, W., 1988, Unsere postmoderne Moderne, VCH, Acta Humaniora, Weinheim.

Cited-By

No related citations found

Comments on this article

Before posting your comment, please read our policy.
Post a Comment (Login required)


ISSN: 0259-9422 (print) | ISSN: 2072-8050 (online)Follow us on:

All articles published in this journal are licensed under the Creative Commons Attribution license.

©2014 AOSIS (Pty) Ltd. All rights reserved. No unauthorised duplication allowed.

AOSIS OpenJournals | Perfecting Scholarship Online
Postnet Suite #110, Private Bag X19, Durbanville, South Africa, 7551
Tel: 086 1000 381 
Tel: +27 21 975 2602 
Fax: 086 5004 974

Please read the privacy statement.