<?xml version="1.0" encoding="UTF-8" standalone="yes"?>
<article HTS_620=""><bibl><publisher><pub_name>OpenJournals Publishing </pub_name><pub_url>http://www.openjournals.net </pub_url><pub_mail>info@openjournals.net </pub_mail><journal_website>http://www.hts.org.za </journal_website></publisher><issn><issn_print>0259-9422</issn_print><issn_web>2072-8050</issn_web></issn><title><article_title>Die Skrif is aan ons toevertrou: Die implikasie van τὰ λόγια τοῦ θεοῦ in Romeine 3:2 </article_title></title><abstract><text>In Paul’s Epistle to the Romans, the expression τὰ λόγια τοῦ θεοῦ refers to speech of God that was entrusted to the Jews as a people. This includes everything He spoke through Moses and the prophets. The apostle presents this as a matter of the greatest privilege to his readers, both for its authoritative contents and the personal involvement of the God of the Covenant it represents. Paul uses these ‘oracles’ or ‘very words of God’ as a collective reference (indicated by τὰ) to all divine speech that was entrusted to the Jews before the revelation of God’s righteousness in Christ, to which these λόγια τοῦ θεοῦ bore witness in advance. This article consequently argues that τὰ λόγια τοῦ θεοῦ refers to the Bible as phenomenon, the revealed Word of God that was entrusted to the Jewish people. </text></abstract><aug><author_name>Benno A. Zuiddam1,2</author_name><author_affiliation>1Skool vir Bybelwetenskappe &amp; Antieke Tale, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom-kampus, Suid-Afrika </author_affiliation><author_affiliation>2Greenwich School of Theology, Engeland </author_affiliation></aug><correspondence><author_name>Benno Zuiddam</author_name><corresponding_email>benno.zuiddam@nwu.ac.za</corresponding_email><corresponding_postal_address>Lantern Waste, Panorama straat 110,  Blackstone Heights, TAS 7250, Australië</corresponding_postal_address></correspondence></bibl><xref><article_id>620</article_id><volume>66</volume><issue>1</issue><doi>10.4102/hts.v66i1.620</doi></xref><copyright><year>© 2010. </year><statement>The Authors. Licensee: OpenJournals Publishing. This work is licensed under the Creative Commons Attribution License. </statement></copyright><history><dates><recieved_date>24 Oct. 2009 </recieved_date><accepted_date>12 Feb. 2010 </accepted_date><published_date>23 June 2010 </published_date></dates><citation>Zuiddam, B.A., 2010,  ‘Die Skrif is aan ons toevertrou: Die implikasie van τὰ λόγια τοῦ θεοῦ in Romeine 3:2’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 66(1), Art. #620, 6 pages. DOI: 10.4102/hts.v66i1.620</citation></history><note><text>Hierdie artikel spruit ten dele voort uit navorsing vir ’n PhD deur die outeur, getiteld ‘Oracles of God: A comparative study of Apostolic Christianity and its Greco-Roman world’ van 2008 aan die Noordwes-Universiteit onder studieleiding van prof. F.J. van Rensburg en medestudieleiding van prof. P.J. Jordaan </text></note><body><sec_heading>Probleemstelling<paragraph><text>Paulus se brief aan die Romeine kan gesien word as die beknopte, sistematiese teologie van die Apostoliese Christendom. Dit behandel verskeie dogmatiese onderwerpe, onder andere kennis van God en sy wil deur mense wat onderwerp is aan die gevolge van die sondeval. Dit speel ’n sentrale rol in die eerste hoofstukke van die brief. Hierdie artikel voer aan dat die grondslag van Paulus se raamwerk nie godsdienstige insigte is wat die mense self verkry nie – in elk geval nie volgens die skrywer self nie. Volgens hom is die spesifieke openbaring van Godsweë aan Abraham se nakomelinge die betekenisvolste faktor wat ’n verskil gemaak het en wat die Jode in hierdie spesiale verhouding met die Here geplaas het. Die apostel maak hierdie kernstelling in Romeine 3:1–2: </text></paragraph><paragraph><text>τί οὖν τὸ περισσὸν τοῦ Ἰουδαίου ἢ τίς ἡ ὠφέλεια τῆς περιτομῆς; πολὺ κατὰ πάντα τρόπον πρῶτον μὲν γὰρ ὅτι ἐπιστεύθησαν τὰ λόγια τοῦ θεοῦ. </text></paragraph><paragraph><text>Het dit dan enige voordeel om ’n Jood te wees, en het die besnydenis enige nut? Ja, baie, in allerlei opsigte. Die belangrikste is dat God sy woorde aan die Jode toevertrou het. (1983/1992-vertaling) </text></paragraph><paragraph><text>Die doel van hierdie artikel is om die implikasies van die gebruik van die Griekse woorde τὰ λόγια in die literêre konteks van Romeine 3:2 te bepaal. Die semantiese teorie wat hierby gebruik is, is die filologiese benadering, wat die teks vanuit sy grammatiese en literêre konteks probeer verstaan. Op grond van daardie begrip word betoog dat die huidige Afrikaanse vertalings van die teks verbeter kan word, aangesien die wesenlike betekenis van τὰ λόγια τοῦ θεοῦ onvoldoende verstaanbaar is vir die leser wat geen kennis van die Grieks het nie. Die 1933/1953- Afrikaanse vertaling gee πολὺ κατὰ πάντα τρόπον πρῶτον μὲν γὰρ ὅτι ἐπιστεύθησαν τὰ λόγια τοῦ θεοῦ soos volg weer: ‘Ten eerste tog seker dat aan hulle die woorde van God toevertrou is’ (Engels: ‘In the first place really that they have been entrusted with the words of God’). Die 1983/1992-vertaling doen dit effens anders: ‘Die belangrikste is dat God sy woorde aan die Jode toevertrou het’ (Engels: ‘Most important is that God entrusted his words to the Jews’). </text></paragraph><paragraph><text>Interessant genoeg word τὰ λόγια in Romeine 3:2 nader bepaal deur die besitlike toevoeging τοῦ θεοῦ. In hierdie artikel word aangevoer dat God nie net sy woorde aan die Joodse volk toevertrou het nie, maar dat Paulus baie meer impliseer. Dit gaan nie om ’n gevoelsmatige kennis nie, nog minder om ’n gesamentlike gevoelsmatige kennis waarop ’n groep Paulinistiese Christene saam besluit het. Die Griekse teks dui op iets heel anders. Dit gaan, volgens die skrywer, om ‘orakels’ van God. Hulle kom van Bo af en is nie uitgedink namens God deur die mens hier benede nie. Paulus het meer algemene woorde (bv. λόγος) tot sy beskikking gehad, maar hy het verkies om ’n seldsamer Griekse woord te gebruik. Hierdie woord is in wese ’n orakel, ’n Godspraak wat die mens net ontvang en deurgee. Die meervoud dui aan dat dit gaan om ’n versameling of die verskynsel van Godsprake. Die goddelike oorsprong word dan nog verder versterk deur τοῦ θεοῦ. </text></paragraph><paragraph><text>Gevolglik word in hierdie artikel voorgestel dat λόγια in Romeine 3:2 nie as blote ‘woorde’ verstaan moet word nie, maar in sigself as goddelike kommunikasie beskou moet word. Die gebruik van τοῦ θεοῦ is nie net ’n nadere kwalifikasie nie, soos dit by ’n ander woord, byvoorbeeld λόγος, sou gewees het. Deur die aanwesigheid van τὰ λόγια moet ons spreek van ’n toutologie wat die saak wil beklemtoon. Die apostel wil duidelik stel dat God sy geopenbaarde woord in bewaring aan die Jode gegee het. Ek toon dit nader aan deur die wyer konteks van die vers in ag te neem en dan deur die onmiddellike tekstuele konteks te belig, Romeine 2:25 tot 3:4. Vervolgens word ’n nadere eksegese van die eintlike vers, Romeine 3:2, as die onmiddellike konteks van λόγια τοῦ θεοῦ aangebied. Dit lei tot ’n filologiese gevolgtrekking oor die betekenis van λόγια in Romeine 3:2 en ’n voorstel vir ’n nuwe Bybelvertaling. </text></paragraph></sec_heading><sec_heading>Wyer konteks van Romeine 3:2  in die brief<paragraph><text>Paulus se brief aan die Romeine is welbekend vir sy dogmatiese behandeling van vraagstukke soos redding deur die geloof in Christus vir Jood sowel as Griek (hoofstuk 1–4), die probleem van sonde vir ’n Christen en die nuwe lewe deur die Heilige Gees (hoofstuk 9–11), gevolg deur praktiese geestelike sake (hoofstuk 12–15) en ’n reeks groete (hoofstuk 16). </text></paragraph><paragraph><text>Romeine 3:2 staan in die nadere tekstuele konteks van Paulus se behandeling van die redding vir heidene én Jode deur die evangelie van Jesus Christus, die Messias met die naam ‘die HERE red’ (vgl. Josua). </text></paragraph><paragraph><text>Paulus voer gronde daarvoor aan dat God sowel Jode as heidene tereg beskuldig van sonde en goddeloosheid. God kwalifiseer albei groepe as sondaars wat nie ’n verskoning het nie (2:9; 3:9). Indien dit nie hul gewete is wat hulle veroordeel met die natuurlike kennis wat hulle kon gehad het van God as hul Skepper (2:12) nie, dan gee die Wet vir die Jode genoegsame inligting om te sien dat hulle tekortskiet in die oë van die God van die Verbond (2:21–24). Dit is in hierdie verband, as deel van daardie debat, dat die wyer perikoop waartoe Romeine 3:2 behoort (2:25–3:2) sy plek inneem. Hierdie perikoop is deel van die argument dat ondanks die feit dat hulle die Wet het, die Jode sulke sondaars is dat hulle die oorsaak is dat die Naam van God onder die heidene gelaster word (2:24). </text></paragraph><paragraph><text>Romeine 3:3 tot 19 wys dat ongeloof, ongehoorsaamheid en huigelary by die Jode geen afbreuk doen aan God se geopenbaarde standaarde nie (3:3–4). In teendeel, in die lig van die Woord word die mens juis bewus van sy sonde en van God se waarheid. In hierdie situasie kan die mens self geen verandering bring nie. Hy kan homself nie regmaak nie. Pogings om vir sonde te vergoed deur goeie dade gaan nie werk nie, want die kwaad is reeds gedoen en kan nie ongedaan gemaak word nie. Die mens kan egter op ’n ander wyse herstel in ’n regte verhouding met God, deur die geloof in God se genade en verlossing wat beskikbaar gemaak is deur Jesus Christus (3:21–26). </text></paragraph></sec_heading><sec_heading>Literêre konteks: Romeine 2:25 tot 3:4<sec_heading>Inleiding<paragraph><text>Die meer onmiddellike konteks van Romeine 3:2 is die perikoop (2:25–3:4), wat handel oor die moontlike voordele van Jood-wees en die besnydenis. In die voorafgaande verse, 2:17 tot 24, bevraagteken Paulus die integriteit van die Jode wat God se Wet preek, maar dit self nie gehoorsaam nie. Nadat hy hierdie oneerlike gedrag veroordeel, praat die apostel verder oor die beginselsaak: Wat is nou eintlik die spesiale status wat die Jood het (2:25–29)? Wat is die verskil tussen heiden en Jood? Wat maak die Jode besonders? Dis hoekom Paulus begin om die vraag te vra watter voordeel daarin lê om ’n Jood te wees, gevolg deur sy antwoord in 3:2. Hoewel die volgende vers (3:3) ’n nuwe reeks vrae begin en ’n ander tema inlui (van God se geregtigheid teen die agtergrond van die sondigheid van die mens, waarby Paulus die twee versoen deur die geregtigheid van die geloof in 3:21–26), is 3:3 tot 4 ’n verbinding tussen die twee onderwerpe. Dit lê die grondslag van die redding van die mens deur te wys op God se bemoeienis met die mens en die betroubaarheid van sy spreke. Op hierdie wyse versterk 3:3 tot 4 die τὰ λόγια τοῦ θεοῦ van 3:2. In die lig van hierdie eenheid van gedagte sou dit dus verkeerd wees om 3:3 tot 4 nie te verreken by die onmiddellike konteks van Romeine 3:2 nie. </text></paragraph></sec_heading><sec_heading>Gehoorsaamheid aan die Woord<paragraph><text>Om die gerigtheid op God se openbaring van die konteks, wat lei tot die verklaring oor die λόγια τοῦ θεοῦ in 3:2, beter te verstaan, is dit van belang om enkele taalkundige opmerkings te maak. </text></paragraph><paragraph><text>In 2:26 gebruik die apostel ’n constructio ad sensum. Die tasbare περιτομή (besnydenis) word abstrak gebruik om dié wat uit die besnydenis is, die Jode, te beskryf (vgl. Blass, Debrunner &amp; Rehkopf 1990:231–232). Dit word dan verbind met λογισθήσεται (word gereken, vgl. Zerwick &amp; Grosvenor 1988:463). Die direkte objek van hierdie oorganklike werkwoord (Geddes &amp; Grosset 2005:206) is die genoemde περιτομή: ἡ ἀκροβυστία αὐτοῦ εἰς περιτομὴν λογισθήσεται (sy ‘onbesnedenheid’ word vir hom tot besnydenis gereken). Dit wys dat God in die eerste plek belangstel in gehoorsaamheid aan sy Woord. Die leser word hier voorberei op die uitspraak in Romeine 3:2. Dis immers God se Woord wat die Jode ontvang het en wat hulle van die heidene onderskei. Dié wat gehoorsaam sonder dat hulle besny is, is beter as ongehoorsame Jode (2:27). In hierdie vers gebruik Paulus dan die voorsetsel διά met ’n genitivus van omstandigheid (vgl. Blass et al. 1990:180–181) om die voorreg van God se spreke met die Jode se gebrek aan gehoorsaamheid te kontrasteer. Zerwick en Grosvenor (1988:463): ‘You who with (or for) all your written code and circumcision are …’. Dit gaan vir Paulus om gehoorsaamheid aan die Woord. Hy versterk die gedagte in 2:28 met die gebruik van εἰς φανερὸν (openlik, na buite toe, vgl. Blass et al. 1990:216). Dit kontrasteer hy dan in 2:29 met ’n parallellisme: ἐν τῷ κρυπτῷ (in die verborge, vgl. Blass et al. 1990:216). Dit is nie hy wat aan die buitekant ’n Jood is nie (ὁ ἐν τῷ φανερῷ Ἰουδαῖός) maar hy wat aan die binnekant ’n Jood is (ὁ ἐν τῷ κρυπτῷ Ἰουδαῖος) wat God se goedkeuring wegdra. </text></paragraph><paragraph><text>Die mens word gebring tot gehoorsaamheid aan God deur die Heilige Gees, nie deur voorskrifte nie (2:29). Die Verbond wat God met die Jode gesluit het en waarvan die besnydenis die verbondsteken is, bring ’n verpligting tot gehoorsaamheid aan God se Woord (Viard 1975:86). Paulus gebruik die woord ὠφέλεια (3:1) in hierdie verband. Hy praat van ἡ ὠφέλεια τῆς περιτομῆς, die voordeel oor verbondskinders (’n vorm van metonomie, ’n ‘abstractum pro concreto’, vgl. Muskens 1984:71). Met ander woorde, Paulus praat nie oor die voordele van fisiese besnydenis nie, maar het sy oog op die hele Joodse volk, vroue en kinders ingesluit. Op hierdie wyse maak die apostel duidelik dat dit vir hom gaan om praktiese gehoorsaamheid aan die Woord van God en nie om ’n ritualistiese argument nie. </text></paragraph><paragraph><text>Dan het Paulus sy lesers voorberei om die vraag van Romeine 3:1, naamlik ‘Watter voordeel het dit dan om ’n Jood te wees, as dit nie die fisiese teken is wat die geestelike verskil maak nie?’ te vra. Die waarde en uitnemendheid van die Jode was nie gegrond op eie verdienste nie, maar op dit wat God aan hulle toevertrou het. Met ander woorde, hierdie was ’n saak van genade en nie van rassistiese hoogmoedigheid nie, ’n godsdienstige voorreg wat daaruit bestaan het dat God vir hulle sy lig gegee het op hul pad (Pirot &amp; Clamer 1948:51). Hierdie vraag is die strukturele inleiding tot 3:2 wat die antwoord bevat (vgl. Blass et al. 1990:104). Daar is ook ’n verbinding tussen die twee verse deur die slot van die uitdrukking τί οὖν τὸ περισσὸν τοῦ Ἰουδαίου (vgl. Schmithals 1988:105). Die Jood is kollektief gebruik, dit verteenwoordig die Jode in die algemeen (vgl. Blass et al. 1990:115). Om hierdie rede gebruik Paulus die meervoud by die werkwoord ἐπιστεύθησαν in 3:2 (vgl. Zerwick &amp; Grosvenor 1988:464) sonder ’n verdere persoonlike voornaamwoord. Die groot verskil vir Paulus tussen Jood en heiden is dat aan die Jode die Woord van God, τὰ λόγια τοῦ θεοῦ (akkusatief van objek, vgl. Blass et al. 1990:259) toevertrou is. Jonker voer die volgende aan: ‘Aan Israel alleen het God sy besondere woorde toevertrou. God het Israel vertrou met sy Woord. Daarom kan God ook met reg aanspraak maak op die trou van Israel teenoor sy Woord’ (1967:55). Dit is dus in die konteks van gehoorsaamheid aan die Woord van die Here dat Paulus stel dat hulle die voorreg het om toevertrou te wees met die geopenbaarde spreke van God. Die slot van die perikoop (3:3–4) beklemtoon dan ook weer die betroubaarheid van God se spreke: δικαιωθῇς ἐν τοῖς λόγοις σου.  </text></paragraph><paragraph><text>Samevattend: In Romeine 2:25 tot 3:4 is dit gehoorsaamheid aan God se betroubare spreke wat vir die skrywer ’n sentrale plek inneem. </text></paragraph></sec_heading></sec_heading><sec_heading>Romeine 3:2: τὰ λόγια τοῦ θεοῦ<sec_heading>Tekskritiese oorwegings <paragraph><text>Die Griekse teks van hierdie vers is nagenoeg dieselfde in alle Oosterse en Westerse tekstradisies. </text></paragraph><paragraph><text>τί οὖν τὸ περισσὸν τοῦ Ἰουδαίου ἢ τίς ἡ ὠφέλεια τῆς περιτομῆς; πολὺ κατὰ πάντα τρόπον πρῶτον μὲν γὰρ ὅτι ἐπιστεύθησαν τὰ λόγια τοῦ θεοῦ. </text></paragraph><paragraph><text>In enkele handskrifte ontbreek die relasiepartikel γὰρ (Nestle &amp; Aland 1988:413), maar die redegewende betekenis kom in elk geval tot uitdrukking in die μὲν - ὅτι-konstruksie, sodat hierdie ’n onbelangrike verskil is. </text></paragraph></sec_heading><sec_heading>Verklaring van τὰ λόγια τοῦ θεοῦ in Romeine 3:2 <paragraph><text>Die nadruklike antwoord πολὺ κατὰ πάντα τρόπον (inderdaad, baie in elke opsig) op sy eie retoriese vraag maak duidelik hoeveel belang die apostel aan die feit ὅτι ἐπιστεύθησαν τὰ λόγια τοῦ θεοῦ heg. Dit is belangrik om te verstaan dat hierdie onderskeidingsteken nie ’n eienskap van die Jode is nie, maar ’n genadegawe van God. Dis die Here wat sy Woord aan hulle toevertrou het – nie die Jode, as sodanig, wat self iets gedoen het wat meegebring het dat hulle die toevertrouding van die Woord verdien nie. </text></paragraph><paragraph><text>Aangesien Paulus πρῶτον aanwend sonder ’n vervolgens’, het hy dit waarskynlik nie bedoel as ’n aanduiding van ’n reeks nie (soos o.a. Bette, Van den Brink &amp; Van der Jagt 1995:75 en Zeller 1985:77), maar as ’n aanduiding van belangrikheid. Om te veronderstel dat Paulus ’n aantal bladsye verder vervolg in Romeine 9:4 tot 5 (bv. Lekkerkerker 1962:117, Newman &amp; Nida 1973:52) lyk nie net ’n bietjie verregaande nie, veral wanneer ’n mens in ag neem dat die briewe voorgelees is en die gehoor dit op hierdie wyse moes internaliseer.  </text></paragraph><paragraph><text>Gevolglik gee ’n vertaling soos ‘Die belangrikste is’ Paulus se bedoeling goed weer. Dit vergelyk goed met sy vorige gebruik van πρῶτον in Romeine 1:8. Net die feit dat die verwagte reeks nie opgevolg word nie, maar reeds stop nadat net die eerste saak genoem is, maak van die feit dat die Jode die Godsprake toevertrou is, ’n absolute saak van prioriteit in die oë van die apostel. Boice (1991:273) vat dit soos volg saam: ‘It was the possession of these logia, or oracles, that constituted the chief advantage of a person’s having been born a Jew’. Dit wys dat daar nie ’n rasse-voordeel aan Jood-wees verbonde is nie, maar dat die Jode ook aan ’n hoër gesag onderworpe is. </text></paragraph><paragraph><text>Dis belangrik om te besef dat daar ’n ingrypende verskil is tussen λόγιον wat Paulus hier gebruik en die algemener woord λόγος.  </text></paragraph><paragraph><text>One of the most evident ways that the writers of Biblical literature claimed to receive divine speech is their use of the word λόγιον. This word is a physical illustration that Jesus’ statement about adding  or removing a jota may be of some consequence to philologists as well as to a more general public. While the commonly used λόγος is primarily word, a communicative vehicle of any sort, this is not true about λόγιον. Like λόγος it is a word, but it is much more restricted in its meaning. The ancient Greek used it to describe an oracle [vgl. Liddell &amp; Scott 1996:1056], i.e. an authoritative pronouncement of the gods. In other words, while the author of λόγος could be human or divine, λόγιον was always produced in the heavenlies. (Zuiddam, Van Rensburg &amp; Jordaan 2008:381) </text></paragraph><paragraph><text>Dunn (1988:130) vertaal: ‘In the first place, they were entrusted with the oracles of God’. ‘Toevertrou’ is ’n goeie vertaling van ἐπιστεύθησαν, aangesien dit weergee dat God die Jode waardig geag het om ’n kosbaarheid te ontvang (vgl. Newman &amp; Nida 1973:52). Dit gaan egter nie in die eerste plek om oppas of ‘safe-keeping’ nie. Dit dui op die ontvangs van ’n kosbare objek wat die ontvanger spesiaal in God se oë maak en die plig tot gehoorsaamheid in daardie verhouding meebring. Die vroeë kerk het soortgelyke praktiese toepassings gemaak; die orakels moes as ’n kosbaarheid in die geloof omarm word. </text></paragraph><paragraph><text>In die wyer konteks (bv. 2:25) sien ’n mens reeds dat Paulus (met die gebruik van die werkwoord ὠφελεῖ) die waarde van die besnydenis beperk tot die mate waarin die Jode inderdaad wel die Wet gehoorsaam. Nou voer hy die debat effens verder en bring dit tot die vlak van openbaring. Nou is dit nie meer die Wet, as ’n blote versameling van reëls, wat ’n mens kan gehoorsaam of breek nie. Paulus bring sy lesers tot die vlak van ’n persoonlike verhouding met die HERE, waarby God se openbaring die sleutel is en die Wet nie meer as net ’n afgeleide gevolg is nie. Om hierdie rede moet τὰ λόγια τοῦ θεοῦ, ‘Die Orakels van God’, dan ook nie verstaan word as ’n klompie enkelvoudige spreuke en openbarings vir geleenthede nie. Paulus gebruik bewustelik nie net die seldsame woord λόγιον nie, maar hy gebruik die meervoud λόγια én voeg die lidwoord by. Op hierdie wyse dui die apostel aan dat dit vir hom gaan om die verskynsel van God wat sy orakels aan die mense gegee het en die Joodse volk in hierdie verband gebruik het. Die λόγια τοῦ θεοῦ sluit dus in, maar is nie uitsluitlik van toepassing nie, op die Woord van God wat Moses en die profete ontvang het: ‘les oracles divins communiqués par Moïse ou les prophètes’ (Légasse 2002:213). Die τὰ λόγια τοῦ θεοῦ is niks minder as Goddelike openbaring en kommunikasie nie, wat Moses en die Profete as tussengangers gebruik het, soos Apollo die Pythia in die Griekse religie gebruik het. Volgens Paulus gaan dit om geopenbaarde Godspraak. Boice (1991) stel tereg die volgende: </text></paragraph><paragraph><text>The term (logia) occurs in three other passages (Acts 7:38, Heb 5:12, and 1 Peter 4:11), and in each case the word indicates that the Old Testament Scriptures, to which these New Testament verses refer, were regarded by the New Testament authors as ‘oracular’.				   	             (Boice 1991:276) </text></paragraph><paragraph><text>De Boor (1962) benadruk die blywende geldigheid aangesien Paulus τὰ λόγια τοῦ θεοῦ as verskynsel beskryf: </text></paragraph><paragraph><text>Achten wir auf die Formulierung! Paulus nennt nicht mit einer gewissen dogmatischen Starrheit, in die wir hineingekommen sind, ‘das Wort Gottes,’ sondern sieht noch ganz lebendig die Fülle der ‘Gottessprüche,’ die durch Mose und durch die Propheten an Israel ergangen sind.                     (De Boor 1962:85)</text></paragraph><paragraph><text>Dunn (1988) meen ook dat die kollektiewe karakter van Paulus se uitdrukking veronderstel dat die apostel die Skrif in gedagte het in 3:2: </text></paragraph><paragraph><text> Paul means the utterances of God, given through Moses and the prophets (he makes no closer specification) and now constituting the holy scriptures (1:2). This usage is already established in the LXX (Deut 33:9; Isa 5:24; Ps 12:6 [LXX 11:7]; 18:30 [LXX 17:31]; 107 [LXX 106]:11; 119 [LXX 118]: 11, 25 (S), 38, etc.; Philo, Praem.1; Vit. Cont. 25; Josephus, war 6.311; Heb 5:12).                            (Dunn 1988:130–131)</text></paragraph><paragraph><text>Dunn verbind Numeri 24:4, 16 met Handelinge 7:38 en 1 Petrus 4:11 in die konteks van ‘inspired utterance’. Hierdie τὰ λόγια τοῦ θεοῦ is ’n openbaringseenheid, die versamelde Godsprake wat aan die Joodse volk toevertrou is. Gevolglik is Fitzmyer (1993:326) reg as hy sê: ‘Rather, it has to be taken in the broad sense of the whole of the Old Testament in which the revelation of God’s will is set forth’. </text></paragraph><paragraph><text>Ander voel egter dat die uitdrukking verder as die Ou Testament as sulks strek. Lekkerkerker (1962) voer die volgende aan:             het is echter juister te denken aan het geheel van de Godsopenbaring die tot de mens komt en die een Gods ‘sprake’ is, zoals God bovenal ‘gesproken’ heeft in Jezus Christus. (Lekkerkerker 1962:118)</text></paragraph><paragraph><text>Hoewel Newman en Nida (1973:52) saamstem met Lekkerkerker in hul kollektiewe vertaling ‘his message’, toon hul kommentaar aan dat hulle eintlik hierdie siening verwerp:</text></paragraph><paragraph><text> There is some question regarding the exact limitations to be placed on the meaning of his message (RSV, NEB ‘the oracles of god’; Goodspeed ‘the utterances of God’; Phillips ‘God’s messages’; JB ‘God’s message’; Moffatt ‘the scriptures of God’). Some take this to be a reference to the entire Old Testament, while others limit it either to special divine revelations as on Mount Sinai or to the promises of God in the Old Testament. However, in light of the parallel passage in 9:4, it would seem best to take it in the larger sense of the entire Old Testament. (Newman &amp; Nida 1973:52)</text></paragraph><paragraph><text>Hoewel Lekkerkerker se siening teologies reg is – uiteindelik was Jesus Christus en sy apostels ook Jode en was die evangelie eerste tot die Joodse volk gerig – en waarskynlik deur ander tekste uit die Nuwe Testament gesterk word, is dit waarskynlik tog nie in die eerste plek waaraan Paulus gedink het met die uitdrukking λόγια τοῦ θεοῦ in die konteks van Romeine 2 en 3 nie. Hy gebruik die aoristus ἐπιστεύθησαν wanneer hy beskryf dat God die Jode die λόγια τοῦ θεοῦ toevertrou het as ’n saak in die verlede. Wanneer Paulus later verder praat oor die openbaring van God se geregtigheid in Christus, gebruik hy nadruklik die woord ‘nou’ (Rom 3:21): νυνὶ δὲ χωρὶς νόμου δικαιοσύνη θεοῦ πεφανέρωται μαρτυρουμένη ὑπὸ τοῦ νόμου καὶ τῶν προφητῶν. Daarby moet ’n mens besef dat Paulus sê dat die Wet en die Profete daarvan getuig. Die τὰ λόγια τοῦ θεοῦ is dus baie meer as byvoorbeeld die Tien Gebooie op Sinaiberg. Bette et al. (1995:75) meen dit het tenminste betrekking op die hele Ou Testament: ‘In de praktijk gaat het daarbij niet alleen om de woorden van de wet, maar ook om de profeten en geschriften’. Zeller (1985:78) stem saam dat ons te doen het met ’n omvattende woord: ‘Das ein wenig gestelzte Wort &gt;&gt;Gottessprüche&lt;&lt; umfaßt sowohl die Verheißungen des AT, mit denen Gott seinen Treue engagiert, wie auch die Weisungen des Gesetzes (vgl. Apg 7,38), die die Treue der Israeliten beanspruchen’. Die Godsprake mag in beginsel ook woorde insluit wat God deur sy Messias Jesus gespreek het, aangesien sy sending immers tot die huis van Israel beperk was (vgl. Matt 10:6; 15:24). Sommige kommentatore laat dit selfs die woorde van Johannes die Doper insluit. Dit is egter waarskynliker dat binne die konteks van Paulus se retoriese argument, die apostel dieselfde konsep in gedagte het as Jesus toe Hy van ‘Moses en die Profete’ gepraat het (vgl. Luk 16:29–31). </text></paragraph><paragraph><text>Onder al die volke is die Jode uitgesonder om in ’n besondere verhouding met die Skepper van die nasies te staan. ’n Verhouding veronderstel kommunikasie. Dit is in hierdie verband dat Paulus van λόγια τοῦ θεοῦ praat – ’n kombinasie van die kommunikatiewe met die Goddelike in die sin van openbaring. Dit kom tot uitdrukking in die volgende vertalings: De Boor (1962:85): ‘Ihnen wurden die Gottessprüche anvertraut’; Zeller (1985:76): ‘die Gottessprüche’; Schmithals (1988:105): ‘Die Worte der göttlichen Offenbarung’; Viard (1975:88): ‘Les oracles de Dieu leur ont été confiés’; Pirot en Clamer (1948:51): ‘furent confiés les oracles de Dieu’; Fitzmyer (1993:324): ‘entrusted with the oracles of God’; en Ziesler (1989:96): ‘the oracles of God’. </text></paragraph><paragraph><text>Vir Paulus berus Godskennis nie op menslike teologiese kreatiwiteit nie, maar op openbaring uit die hemel. Vir hom is dit die Skepper wat die sondigheid van die mens deurbreek en betroubaar gespreek het. Dit het nie by sy volk uitgekom deur slim stories nie, maar soos orakels uit die hemel, λόγια. Party teoloë het voorgestel om τά λόγια met ‘promises’ te vertaal (vgl. Newman &amp; Nida 1973:52), maar dit het weinig meer te doen met Grieks en blyk veral deur teologiese uitgangspunte en nie deur taalkennis nie aangemoedig te wees. Nie net die inhoud van die woord as sodanig nie, maar ook die konteks van τά λόγια is een van Godspraak, van openbaring. </text></paragraph></sec_heading></sec_heading><sec_heading>Filologiese gevolgtrekking oor τὰ λόγια τοῦ θεοῦ <text>Die woorde τὰ λόγια τοῦ θεοῦ in Paulus se brief aan die Romeine verwys na Godspraak wat die HERE aan die Joodse volk toevertrou het. Die wyse waarop Paulus sy saak in die Grieks stel, is opvallend. Die meervoud, gebruik van die lidwoord en die konteks dui aan dat die apostel hier die spesifieke Godspraak aan die Jode as ’n verskynsel in die oog het. Met ander woorde: Dit gaan nie om bloot woorde nie, maar om orakels. Dit gaan nie om ’n eenmalige Godspraak vir ’n unieke gebeurtenis nie, maar om baie openbaringswoorde. Dit is nie sommer ’n klomp orakels nie – hulle hoort saam; die gebruik van die lidwoord in Grieks dui op ’n samehang van die orakels. Die onmiddellike filologiese konteks van τοῦ θεοῦ verduidelik dit verder: Dit is God wat deur almal praat. Die tekstuele konteks van die vers (3:2) stel dat juis dit die groot voorreg is wat ’n Jood het. Hy het toegang tot en kennis van die orakels van God. God het met sy volk gepraat en daardie Woord is opgeteken en bewaar en vir die Jood beskikbaar. Dit sluit gevolglik enige Godspraak in wat aan Moses en die Profete gemaak is en deur die Joodse volk bewaar is. Die apostel ag dit ’n saak van die grootste voorreg dat God sy Skriftelike openbaring aan die Jode toevertrou het, en wel om die gesaghebbende inhoud daarvan, asook die persoonlike betrokkenheid van die God van die Verbond by hul lewens. Paulus gebruik hierdie ‘orakels’ of ‘Godsprake’ as ’n kollektiewe verwysing (aangedui deur τὰ) na alle Godsprake wat aan die Jode toevertrou is voor die openbaring van God se geregtigheid in Christus, van wie die λόγια τοῦ θεοῦ getuienis gee. Hoewel baie vertalings aandui dat die λόγια in Romeine 3:2 nie bloot woorde is nie, maar Godsprake of openbaringswoorde, kom dit onvoldoende tot uitdrukking in die Afrikaanse vertalings tot nog toe. Die New International Version het nie ’n slegte oplossing nie en vertaal 3:2 as: ‘First of all, they have been entrusted with the very words of God’. Die letterlikste vertaling word deur die Revised Standard Version en die Authorised Version verkies: ‘For in the first place the Jews were entrusted with the oracles of God’. Tog kan ’n mens wonder of hierdie Engelse vertalings wel voldoende die kollektiewe element in τὰ λόγια τοῦ θεοῦ aan die lesers verduidelik. Sowel die openbaringsfenomeen (orakels/openbaring) as die kollektiewe karakter van die openbaring (bv. Woord) moet egter verreken word. ‘Godsprake’ is goeie Afrikaans, maar word deesdae as argaïes beskou. ’n Goeie alternatief wat albei betekenisvelde dek, is ‘geopenbaarde Woorde van God’. Dit lei tot die volgende voorstel vir ’n nuwe Afrikaanse Bybelvertaling: ‘Die belangrikste is tog seker dat aan hulle die geopenbaarde Woorde van God self toevertrou is’. </text></sec_heading></body><bm><referencing><ref_id>1. <text>Bauer, W., Aland, K. &amp; Aland, B., 1988, Wörterbuch zum Neuen Testament [Dictionary of the New Testament], 6de volledig hersien oplae, Walter de Gruyter, Berlyn. </text></ref_id><ref_id>2. <text>Bette, J.C., Van den Brink, G. &amp; Van der Jagt, J.W., 1995, De brief van Paulus aan de Romeinen [Paul’s Letter to the Romans], Studiebijbel, In de Ruimte, Soest.  </text></ref_id><ref_id>3 <text>Blass, F., Debrunner, A. &amp; Rehkopf, F., 1990, Grammatik des Neutestamentlichen Griechish [Grammar of New Testament Greek], VandenHoeck &amp; Ruprecht, Göttingen. </text></ref_id><ref_id>4.<text> Boice, J.M., 1991, Justification by faith, Romans 1:1−4:25, Baker Book House, Grand Rapids. </text></ref_id><ref_id>5.<text>Byrne, B., 1996, Romans, Sacra Pagina Series, Liturgical Press, Collegeville.  </text></ref_id><ref_id>6. <text>Colenso, J.W., 2003, Commentary on Romans , Cluster Publications, s.l. </text></ref_id><ref_id>7.<text>De Boor, W., 1962, Der Brief des Paulus an die Römer [Paul’s Letter to the Romans] Wuppertaler Studienbibel, Brockhaus Verlag, Wuppertal. </text></ref_id><ref_id>8 <text>Dunn, J.D.G., 1988, Romans 1−8, Word Biblical Commentary, Word, Waco, TX.  </text></ref_id><ref_id>9.<text>Fitzmyer, J.A., 1993, Romans: A new translation with introduction and commentary, The Anchor Bible Doubleday, Londen.  </text></ref_id><ref_id>10<text>Geddes &amp; Grosset, 2005, Dictionary of English grammar, Geddes &amp; Grosset, New Lanark. </text></ref_id><ref_id>11 <text>Haacker, K., 1999, Der Brief de Paulus an die Römer [Paul’s Letter to the Romans], Theologisches Handkommentar zum Neuen Testament Evangelische, Verlagsanstalt, Leipzig.  </text></ref_id><ref_id>12<text> Hanekom, T.N., 1951, Die liberale rigting in Suid-Afrika: ’n Kerkhistoriese studie [The liberal way in South Africa: A study of church history], Christen-Studentevereniging Maatskappy van Suid-Afrika, Stellenbosch. </text></ref_id><ref_id>13<text>Jonker, W.D., 1967, Die brief aan die Romeine [The letter to the Romans], NG Kerk-Uitgewers, Kaapstad. </text></ref_id><ref_id>14 <text>Légasse, S., 2002, L’Épître de Paul aux Romains [Paul’s Epistle to the Romans], Lectio Divina Commentaires Les Éditions du Cerf, Parys.  </text></ref_id><ref_id>15 <text>Lekkerkerker, A.F.N., 1962, De brief van Paulus aan de Romeinen [Paul’s Letter to the Romans], De Prediking van het Nieuwe Testament, Callenbach, Nijkerk.  </text></ref_id><ref_id>16<text>Liddell, H.G. &amp; Scott, R., 1996, A Greek-English lexicon, Clarendon Press, Oxford. </text></ref_id><ref_id>17<text>Lohse, E., 2003, Der Brief an die Römer [The letter to the Romans], Kritisch-exegetische Kommentar über das Neues Testament, Vandenhoeck &amp; Ruprecht, Göttingen</text></ref_id><ref_id>18<text> Mounce, R.H., 1995, Romans, The New American Commentary, Broadman &amp; Holman, Nashville.  </text></ref_id><ref_id>19<text>Nestle, E. &amp; Aland, K., 1988, Novum Testamentum Graece [Greek New Testament], Deutsche Bibelgesellschaft, Stuttgart. </text></ref_id><ref_id>20<text> Newman, B.M. &amp; Nida, E.A., 1973, A translator’s handbook on Paul’s letter to the Romans, United Bible Societies, Londen. </text></ref_id><ref_id>21<text> Nygren, A., 1951, Der Römerbrief [Letter to the Romans], Vandenhoeck &amp; Ruprecht, Göttingen. </text></ref_id><ref_id>22<text> Origen, 2006, Commentarii in epistulam ad Romanos [Commentary on the epistle to the Romans], Cultural Heritage Management Lab (University of the Aegean), Mytilene. (J.P. Migné, Patrologiae Cursus Completus)  </text></ref_id><ref_id>23<text>Pirot, L. &amp; Clamer, A., 1948, Épitre aux Romains, Épitre aux Corinthiens, Épitre aux Galates, La Sainte Bible, Letouzey et Ané, Parys.  </text></ref_id><ref_id>24 <text>Schmithals, W., 1988, Der Römerbrief [Letter to the Romans], Güterloher Verlag Haus, Mohn. </text></ref_id><ref_id>25<text>Stuhlmacher, P., 1989, Der Brief an die Römer, Das Neue Testament Deutsch, Vandenhoeck &amp; Ruprecht, Göttingen.  </text></ref_id><ref_id>26<text>Van Bruggen, J., 2006, Romeinen. Christenen tussen stad en synagoge, Commentaar op het Nieuwe Testament, derde serie, Kok, Kampen.  </text></ref_id><ref_id>27<text>Viard, A., 1975, Saint Paul Épitre aux Romains, (Sources Bibliques Series), Librairie Lecoffre, Parys.  </text></ref_id><ref_id>28<text>Warfield, BB. 1969, The inspiration and authority of the Bible, Morgan &amp; Scott, Londen. </text></ref_id><ref_id>29<text>Zeller, D., 1985, Der Brief an die Römer, Regensburger Neues Testament, Friedrich Pustet, Regensburg. </text></ref_id><ref_id>30<text>Zerwick, M. &amp; Grosvenor, M., 1988, A grammatical analysis of the Greek New Testament, Papal Bible Institute, Rome. </text></ref_id><ref_id>31<text> Ziesler, J., 1989, Romans, SCM Press, Londen. </text></ref_id><ref_id>32. <text>Zuiddam, B.A., Van Rensburg, J. &amp; Jordaan, P.J., 2008, ‘Λόγιον in Biblical Literature and its implications for Christian Scholarship’, Acta Patristica et Byzantina (19), 379−394.</text></ref_id></referencing></bm></article>

